Preekskets 25 Augustus 2019 Ds Jacques – Dien God met eerbied en ontsag


Teks:  Hebr 12:14-29

Liedere:  521:1,2   245:1,2   528:1,2,3

 

Net na die skeppingsverhaal in Genesis word daar aan ons beskryf watter wonderlike verhouding daar tussen God en die mens bestaan het.  God het in die aand saam met Adam in die tuin van Eden gewandel en hulle het soos vriende met mekaar gekommunikeer.  Na die sondeval het hierdie verhouding geheel en al verander.  Adam en Evan kruip vir God weg omdat hulle skaam is oor wat hulle gedoen het.  Die wonderlike verhouding van vroeër bestaan nie meer nie.

Die Here gee aan Moses die 10 gebooie as die riglyn van ‘n toegewyde lewe.  Die Jode beskou dit as ‘n baie ernstige saak en pas die wet tot op die letter toe.  Dink maar net aan dit wat Paulus in Fillipense 3 skryf as hy sê dat hy eintlik rede het om te mag spog, want hy is ‘n volbloed Jood en ‘n opregte Fariseër wat in totale wetsonderhouding geleef het.

Nou leer ons uit vandag se teks dat God van ons ‘n heilige lewe eis.  Om te dink dat dit beteken dat ons weer soos die Jode van ouds wetties moet begin leef is heeltemal verkeerd.  Dit is Paulus self wat vir ons leer dat alles waarop hy vroeër geroem het nou vir hom waardeloos geraak het omdat hy die Ware Verlosser ontmoet het.

Om vir ons die verandering wat in die verhouding tussen ons en God ingetree het duideliker te maak verduidelik hy aan ons die vrees en verskrikking wat die Jode in die tyd van Moses ervaar het wanneer God Homself aan hulle geopenbaar het.  Die volk sidder van angs wanneer die Here op die berg verskyn.

Wanneer God egter op die Sionsberg aan gelowiges verskyn, verskyn mense voor God as verlostes en vrygespreektes.  Nou is daar nie meer sprake van angs en vrees nie, maar is die verhouding eerder soos wat dit in die tyd van Adem en Eva voor die sondeval was.  Daar is sprake van ‘n feesmaaltyd wat gekenmerk word deur vreugde.  Oormatige liefde word ervaar.

Paulus se uitnodiging aan ons is nou om nie die wonderlike verlossingsboodskap te verontagsaam nie,  Moenie vir Jesus as die Verlosser afwys nie, want dan kan ons nie deel in die persoonlike voorreg en vreugde van kindwees nie.  Ons moet die ongelooflike voorreg daarvan besef, na Hom luister en dan uit dankbaarheid ‘n lewe van heiligheid leef.