Preekskets 25 Oktober 2020 Ds Jacques – Julle is die heilige tempel van God


Teks:  1 Korintiërs 3:1-9

Liedere:  199:1,2,3   590:1,2   268   588:1,3

Wanneer ‘n nuwe babatjie vir ‘n gesin gebore word, is daar by almal groot opwinding oor die nuweling in die familie.  Die kleinding word bederf en almal praat oor hoe oulik die dingetjie tog is.  Die baba kan nog niks vir hom- of vir haarself doen nie, maar die ouers gee nie daarvoor om nie en doen alles wat die kleinding nodig het vir hom of vir haar.  Dit is soos wat dit by alle ouers werk.

Dan begin die kleintjie groei, groter word en kan al meer dinge self doen.  Met verloop van tyd is daar sekere ouderdomsgepaste gedrag wat die kleinding moet bemeester.  Daar is ‘n normale patroon van ontwikkeling.  As die kleintjie nie hierdie ontwikkelinge toon nie is almal in die gesin baie bekommerd en moet daar professionele raak ingewin word.  Daar is sekere spysvertering-, taal- en gedragsontwikkeling wat verwag word en waarna uitgesien word.  Indien dit nie gebeur nie besef almal daar is fout.

Nou verduidelik Paulus aan ons dat dit ook so in ons geestelike lewe moet wees.  Ons gee ons hart vir die Here en is dan nog maar babatjies in die geloof.  Ander gelowiges sal verstaan dat so ‘n nuwe bekeerling nog nie alles sal kan verstaan nie.  Die verwagting is nou dat geestelike groei met verloop van tyd sal plaasvind.

Wanneer Paulus by hierdie gemeente kom is hy baie ongelukkig.  Die mense baklei onder mekaar, hulle kies kant vir sekere apostels of predikers.  Hy sê vir hulle dat hulle steeds wêrelds is en dat hulle geloof nie hul lewe verander het nie.  So kan dit nie aangaan nie. 

Almal is saam in diens van die Here.  Almal saai saam en werk saam in God se saailand.  Daarom moet ons sorg dat ons onder die leiding van God se Gees staan en optree soos wat volgelinge van God moet maak.  Ons is so vinnig om fisiese tekortkomings raak te sien en iets daaraan te doen, maar wanneer dit by die geestelike deel van ons lewe kom voel ons heel tevrede om te bly net soos wat ons is.  Ons spreek mekaar ook nie eintlik aan of help mekaar om te kan groei nie.  Volgens Paulus is dit ‘n teken van mense wat nog wêrelds is.  Kom ons stel dit as ‘n uitdaging aan onsself om die Here te vertrou vir groei in ons lewe.  Kom ons ondersteun mekaar daarin en saai saam op Sy saailand.