Preekskets 14 Februarie 2021 Ds Jacques – Hy lei my tree vir tree


Teks:  Psalm 119:105 en Matteus 6:11

Liedere:  184:1-4   235:1,2    260:1,11

Baie mense hou van reis.  Dis regtig lekker om nuwe plekke te besoek, nuwe kulture te leer ken en nuwe avonture te beleef.  Dis baie interessant om na mense se idees rakende die beplanning van so ‘n reis te luister.  Een groep mense beplan so ‘n reis baie versigtig.  Dis gewoonlik hulle wat verkies om saam met ‘n reisagentskap te reis.  Iemand anders beplan die reis, maak die besprekings en sorg vir die kos, verblyf en vervoer.  Dis ‘n baie lekker en veilige manier van reis.  Aan die ander kant kry ‘n mens die groep wat weer avontuurlustiger is wanneer dit by so ‘n reis kom.  Hulle spring eenvoudig op ‘n vliegtuig, gooi ‘n rugsak oor die skouer en vaar die vreemde in sonder enige plan.  Hulle kan natuurlik heelwat meer sien en beleef as die eerste groep, maar daar bestaan altyd die gevaar dat hulle hulself in gevaarlike situasies kan bevind.

Wanneer ons na ons eie lewe kyk glo ek dat die meeste van ons graag sou wou hê dat ons lewenspaadjie presies vir ons duidelik uitgelê moes wees.  Ons sal daarvan hou as daar nie groot verrassings op ons wag nie.  Onsekerhede wat ons lewe tref, maak dat die lewe met my regtig sleg kan wees.  Hierdie onbekende dinge wat vir ons lê en wag mag die lewe opwindend maak, maar ons kan ook vreesbevange raak oor dit wat met ons gebeur. 

As ons na die Bybel kyk sien ons dat die Bybel nooit vir ons sê dat dit maklik gaan wees om agter te volg nie.  Dis Hy self wat vir Sy dissipels sê dat selfs ‘n jakkals ‘n plek het om sy kop neer te lê as hy wil rus, maar Hy het dit nie.  Sy dissipels moet daarom besef dat navolging van Hom ‘n opwindende, maar onvoorspelbare reis is.  Hulle sal wonderwerke saam met Jesus beleef, maar daar sal ook dae wees wat hulle vir hul lewe sal vrees. Tog verseker vandag se twee verse ons dat God elke tree van hierdie lewe saam met ons op reis is.  Hy sal elke dag vir ons die pad verlig en elke dag vir ons ons daaglikse brood voorsien.  Dit gebeur elke liewe dag, maar ons moet ook leer om vir elke dag se voorsiening te vra en Hom daarvoor te vertrou.  Dis waar ware geloof en vertroue inkom.  Hy los ons nie.  Hy sorg en Hy voorsien, weer en weer en weer.  Ons verkies dalk eerder ‘n duidelik uitgewerkte plan vir ons lewe.  By God werk dit egter nie so nie.  Daarom vra dit van ons ‘n diep afhanklikheid van God.  En tog is dit die beste posisie om in te wees.