Beleef God se teenwoordigheid
Genesis 24:34-67
Verhaal raak ons ook
Abraham besluit ná Sara se dood dat die tyd gekom het om vir Isak ‘n lewensmaat te soek. Hierdie verhaal vertel hoe verskillende persone mekaar ontmoet het en vertel ook van ontmoetings tussen hulle en God. Ons leer die persone se identiteit asook hulle diepe geloofslewe ken. Die verhaal wil egter nie net die lewe van die karakters en hulle optrede illustreer of toelig nie. Die verhaal wil ook iets doen. Dit doen iets aan en met ons. Soos die verhaal ontvou, kan ons onsself, ons foute en tekortkominge, maar ook ons eie soeke, hoogtepunte en sterkpunte ontdek.
Abraham gee ‘n opdrag
Abraham gee opdrag aan ‘n slaaf om ‘n vrou vir Isak te kry. Ons sien hier die eerste getuienis van ‘n “gereëlde huwelik“, waar die pa vir sy seun ‘n vrou soek.
Voorwaardes
Abraham is ook baie duidelik daaroor dat hierdie vrou van sy eie mense af moet kom en nie van die mense van Kanaän nie. Die enigste vrou wat sou deug vir die seun van die belofte is iemand wat nie besoedel is met die kultuur en gebruike van Kanaän nie. Abraham se instruksies is egter ook spesifiek dat Isak die seun van die beloofde land moet bly.
Die slaaf se gebed
Dit is verder insiggewend dat die slaaf ‘n spesifieke versoek rig dat die Here hom na ‘n vrou sal lei wat nie bang is om gasvry te wees teenoor vreemdelinge nie. Hy het dus ‘n idee van watter tipe vrou geskik sal wees vir Isak. Die weë van die Here is voorwaar wonderbaar soos die slaaf in sy gebed verklaar. Die slaaf dank die Here op roerende wyse dat Hy die regte een gekies het.
God is betrokke
Let ook op hoe die slaaf die voorsienigheid van God in sy versoek in gebed en die uitkoms in die gebeure by die waterput gebruik om die familie van die Goddelike oorsprong van die huweliksaanbod te oortuig. Hulle aanvaar die slaaf se woorde as die woord van die Here en ook Rebekka laat haar die aanbod van ‘n huwelik met Isak geval….verse 50,52.
Die groot oomblik
Die ontmoeting met Rebekka word met ‘n stukkie ingetoënheid vertel dat Isak in sy verlies van sy ma Sara getroos word deur die vreugde van Rebekka soos daaruit blyk dat hy haar laat woon in die tent wat aan sy ma behoort het. Die skrywer sluit af deur te sê: “Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad.” Die eerste huwelik waarvan ons in die Bybel lees waarin dit pertinent genoem word.
‘n Geloofsreis by die oorgange van die lewe
Vir beide die slaaf en vir Rebekka was dit ‘n nuwe fase. Vir Rebekka se familie is dit ook ‘n nuwe reis: ‘n reis sonder haar nou in die huis. Hierdie is ‘n verhaal wat ons herinner aan die moeilike, uitdagende oorgange van die lewe wat nie sonder die Here aangepak moet word nie. Ons is almal ook soms op ‘n nuwe geloofsreis te midde van nuwe realiteite. Sukkel ons almal nie maar om onsself in ‘n oorgangstyd te herontdek nie? Abraham se geloof word hier deur nuwe omstandighede getoets.
Ons geloofsreis met God vorm die manier hoe ons God sien en ‘n belydenis oor God vorm. Die belydenisse wat die karakters in ons verhaal uitspreek, is bewys van hoe hulle God sien: ‘n God wat gebede verhoor, wat sy kinders laat slaag in wat hulle aanpak, die Skepper wat nuwe paaie in die vreemde skep, die Almagtige wat altyd in beheer is van die geloofsreis.
Ds Thinus