Genesis 28:10-22
God gee nuwe lewensmoontlikhede.
Agtergrond
Jakob is aan die vlug. Weg van sy broer wie se eersgeboortereg hy eers met ’n slinkse plan bekom het en wie se seën hy daarna by hom gesteel het. Esau is van plan om net wag vir sy pa om te sterf voordat hy sy broer Jakob vermoor. Onder hierdie omstandighede het Jakob eintlik geen ander keuse nie as om te sorg dat hy wegkom.
Klip vir ‘n kussing
So gaan Jakob die onbekende tegemoet. As ’n vlugteling verdryf van sy grond, gesin en sy God deur sy eie toedoen. Wie sou in hierdie omstandighede by hom staan? Reeds sy eerste nag weg van die huis is ’n nag onder die oop hemel. Vers 11 sê dat hy ’n klip as ’n kopkussing gebruik het wat ook as ’n soort beskerming gedien het. Met die klip by sy kop raak hy aan die slaap. En hy droom. Dis belangrik om in gedagte te hou dat drome in die Bybelse tyd nie gesien is as die werking van ’n mens se onderbewuste nie, maar dat drome beskou is as die manier waarop God self of deur sy engele ’n boodskap aan iemand wou tuisbring. In sy droom sien Jakob ’n leer wat van die aarde tot in die hemel reik en die engele van God wat op- en afklim teen die leer. En God self? Wat doen Hy? Dit moet seker een van die wonderlikste verse in die hele Bybel wees, want ons lees: Toe kom staan die Here by Jakob . En God sê: ” … Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan …”
Lewe is soms vreemd. Weg van God het hy ontdek wie God is. Soms is God juis daar waar ons nie gedink het Hy is nie. Wanneer ons dink dat Hy ver is, juis dan is Hy soms so ontsettend naby. Wanneer alle weë op aarde doodloop, is dit soms juis die tyd dat God ’n deur na die hemel toe oopmaak. Soms moet ’n mens eers in die dal van doodskaduwee ingaan om die lig van die lewe raak te sien.
Nie klippe nie maar die Rots
Wanneer ’n mens dink dat dit nog net die klippe is wat jou kan beskerm, juis dan gaan jou oë oop vir die Rots van Israel. Hierin lê die geheim van die lewe: die boodskap dat ons die lewe nie verkry deur eie inspanning nie, maar as ’n geskenk van die God wat in Jesus Christus by ons kom staan het
Verdien Jakob dit?
Nee! Kwalifiseer hy hiervoor? Nee Jakob het nie eers ‘n intensie gehad om God te ontmoet nie. Glad nie. Maar God daag op gereed om aan Jakob baie méér te kom gee as wat hy self met sy slinkse plannetjies kon bekom.
Hierdie verhaal kom ons ook uitnooi om ons deur hierdie God te laat vind.
Miskien klim jy nog met ywer die lere van sukses uit.
Hier is ‘n verhaal wat jou wil gerusstel: Jy hoef geen leer uit te klim nie. God het afgeklim. God is híér, langs jou.
Alles lyk anders
Dít gebeur met Jakob: As hy wakker word, lyk alles anders. Want hy kyk anders. Hy sien méér raak as voorheen. Hy begryp méér as wat hy voorheen verstaan het.
Sy lewe slaan ‘n nuwe rigting in.
Nuwe lewensmoontlikhede
Hierdie verhaal wil vir ons tyd en ons wêreld tekens laat sien wat getuig van ‘n nuwe koninkryk wat ‘n sterwende wêreld weer tot lewe kan bring. Kom ons gaan wees die beloftedraers wat kan getuig: “God” het ons gevind!
Ds Thinus