Die mens wik, maar God beskik
Teks: Genesis 6:11-7:5
- God vra geloof en gehoorsaamheid
Noag kry ‘n baie vreemde opdrag by God. God lig hom in dat die mense in verderf verval het en dat hy die hele mensdom gaan uitroei, behalwe Noag en sy gesin. Die opdrag is om ‘n reusagtige groot ark te bou, waarin God Noag se gesin, saam met ‘n voorbeeld van elke dierespesie gaan red. In die omgewing waarin Noag woon, is water ‘n luukse. Tog moet Noag voortgaan met die opdrag.
- Noag sien nog nie
Alhoewel Noag nog niks sien van dit wat die Here belowe het wat gaan gebeur nie, word daar steeds van hom verwag om te doen wat God vra. Die groot geloofstap vir Noag is juis om in hierdie onsekerheid voort te gaan en alles presies uit te voer soos wat God van hom verwag.
- Noag reageer in elk geval
In ‘n gemeenskap waar Noag die uitsondering was omdat hy God geëer het, sien hy steeds kans om eerder God se opdrag uit te voer. Die mense in die gemeenskap moes verseker gedink het dat Noag dit heeltemal moes verloor het. Hoe kan enige regdenkende mens soveel tyd, geld en hulpmiddels aan so ‘n “onsinnige” opdrag spandeer. Verder kon dit ook nie maklik gewees het om sy gesin gemotiveerd te hou om saam aan die ark te bou nie.
- God is ten volle in beheer
Die vraag wat gevra moet word is: Waarom was dit moontlik vir Noag om so te kon optree? Die antwoord lê daarin dat Noag naby aan God geleef het. Gevolglik het hy God se karakter, Sy manier van doen en Sy beloftes wat altyd waar word, geken. Daarom kon hy God so volledig vertrou en volg, want hy besef dat God onder alle omstandighede ten volle in beheer is.
- God het reeds die einde in sig
Vir Noag het dit nie saak gemaak dat daar enige vorm van ‘n stuurmeganisme in die ark was nie. Vir hom was dit genoeg om te weet dat God te volle in beheer is en daarom ook weet wat die einde van die hele verhaal sal wees. Alhoewel hy dus nog nie die einde kan sien nie, is dit vir hom genoeg dat God die einde kan sien.
Die uitdaging vir ons is dus om ook ons vertroue in God aan hierdie verhaal te toets. Vertrou ons God so volledig, of wil ons eerder self in beheer wees van ons lewensverhaal? Noag het volledig vertrou en daarom word daar ook in Hebreërs 11 met soveel lof van hom as ‘n geloofsheld getuig. Kom ons volg in sy voetspore.