Teks: Matteus 20:1-16
Ons hele geloofslewe is daarop gebou dat ons God se liefdevolle hart verstaan. Ons hele geloofslewe begin hier.
God soek ons
Alhoewel ons in ons hart die begeerte na God het moet ons altyd onthou dat dit God is wat eerste na die mens soek. Selfs die begeerte om God te aanbid is deur God in ons harte geplant.
Hy dra ons terug na Sy kudde
Die Bybel is vol verhale van God se soeke na ons. Dink maar net aan die gelykenisse van die verlore muntstuk, die verlore skaap en die verlore seun. In elkeen van die verhale word die verlore item gesoek totdat dit weer gevind word en dan is daar groot blydskap. Selfs wanneer die verlore seun besluit terug na sy vaderhuis te gaan, word hy deur die besef wie sy pa is gemotiveer. Hy ken sy pa se genadige hart.
Oë op God gerig
Een baie belangrikke saak om altyd te onthou, is dat dit heel moontlik is om weer verlore te gaan as ‘n mens se oë nie voordurend op God gerig is nie. Die menslike soeke na vryheid verskaf net vir ‘n rukkie vreugde, maar dan word ‘n mens bang en onseker. Die onafhanklikheid waarna die mens soek gee nie blywende sekuriteit nie. Ware vryheid en volheid word net met die oë op God ervaar.
Maar dis nie altyd so maklik nie
Daar gebeur baie dinge wat ‘n mens ontstel in die lewe. Dit maak dat ‘n mens aan God se goedheid kan begin twyfel. Dit kan ook gebeur dat ‘n mens voel jy verdien meer van God se goedheid as iemand anders wie se lewe erger as joune was. Daar word dan geredeneer dat God se genade tussen te veel mense verdeel word en elkeen kry net ‘n klein stukkie. Maar soos met die verlore skaap en muntstuk word daar gesoek totdat dit wat verlore was weer gevind is. Selfs al hou dit die heeldag aan. Maar dan is dit wat verlore was gevind en kan wat nog verlore was gesoek word. Dit vat niks van jou wat alreeds gevind is weg nie.
Verstaan ek God se liefdevolle hart?
Verstaan ons werklik die verskil tussen genade en verdienste? ‘n God wat aanhou soek totdat Hy ons gevind het? Wat niks vir ons bied omdat ons dit verdien nie, maar alleenlik omdat Hy vir ons so oneindig lief het.
As ons dit verstaan sal ons so bly wees dat ons nie meer verlore is nie, ons sal onsself aanbied om die wat nog verlore is te help soek en ons sal bly wees saam met die wat gevind is.
Is God regverdig? Nie volgens menslike oordeel nie. Gelukkig nie! Juis daarom is Sy hart ook groot genoeg om ons te aanvaar. Maar in alles is Hy genadig en lankmoedig. En dis God se hart.