Preekskets 21 Januarie 2018 Ds Jacques – Volg die leier. Wees die leier!


Teks:  Ef 5: 6-20

Die Serengeti is een van die belangrikste en interessantste ekosisteme in die wêreld.  Dis in Tanzanië geleë.  Daar is dit bekend as die Maasai Mara.  Dit strek oor 12 000 km.  Wat maak hierdie area so interessant?  Die wêreld se grootste migrasie van diere vind hier plaas.  Daarom word dit gesien as een van die 7 natuurlike wonders van die wêreld en een van die 10 natuurlike reis wonders van die wêreld.

Elke jaar, tussen Januarie en Maart, begin ‘n reuse wildebees-migrasie in die Ngorongoro bewaringsarea in Tanzanië, as gevolg van die tekort aan gras en weiding.  In hierdie tyd kalf die 260 000 Zebras en 1,7 miljoen wildebeeste.  Saam met hulle trek ook nog ongeveer 470 000 ander grootwild soorte.

Ongeveer 500 000 kalwers word gebore in ‘n kwessie van 2 tot 3 weke.  Teen Mei hou die reën op en begin die diere met hul terugtog.  Ongeveer 250 000 wildebeeste vrek jaarliks tydens hierdie trek.  4 hoof redes word hiervoor gegee: Dors, honger, uitputting en roofdiere.

Op een of ander manier weet hierdie diere instinktief hoe hierdie proses werk.  ‘n Leier begin om die pad te begin stap en skielik kom die hele groep in beweging.  ‘n Voordurende, herhalende, jaarlikse reis vind plaas.

‘n Mens kan jouself die vraag afvra:  Waarom doen die diere dit?  Dit is uitputtend.  Dit is lewensgevaarlik.  250 000 van hulle vrek jaarliks.  Hoekom bly hulle nie net eenvoudig die hele tyd op een plek nie?  Dis mos net soveel makliker.  Dit vat geen “effort” van enige een van hulle nie.

Trek of vrek

As hulle een jaar sou oorslaan en nie trek nie, loop die trop die gevaar om heeltemal uit te sterf.

Vandag se teks leer ons:  Moenie mislei word nie.

  • Volg die regte leier

Dis nodig om iemand te volg wat weet wat is die gevare van bly en gaan.  Wat besef dat ‘n mens nie in jou geestelike lewe kan stagneer nie.  Dis op die kort termyn dalk makliker en geriefliker om te bly, maar op die langtermyn beteken dit geestelike vernietiging.  Ons geloofslewe moet ‘n groeiende en bewegende saak wees en bly.  Ons moet voordurend besig wees om die vraag aan onsself te vra:  Is ek met die regte dinge besig?

  • Wees self die leier

Verder:  Ons is so geneig om altyd die skuld vir ons eie geestelike louheid te plaas op die skouer van iemand anders.  Wat dink julle sal met die klomp zebras en blouwildebeeste gebeur as hulle op hierdie manier antwoord as dit tyd raak vir die jaarlikse trek?  Neem self beheer as dit nodig raak.

  • Word ’n leier deur God te eer

Die reis is nie altyd maklik nie.  Dis nie sonder gevare nie.  Maar dit bly opwindend.  Dit bly vol belofte en vol belonings, want dit gebeur saam met God tot eer van God.  Aanvaar die uitdagings.  Stap die geloofspad saam met God.  Hy weet waarheen Hy met ons oppad is.