Teks: 1 Korintiërs 8: 1-13
In 1 Korintiërs 8 word daarop gewys dat gelowiges nie meer gebonde is aan allerlei godsdienstige reëls en moets en moenies nie, maar dat ons nogtans daarop bedag moet wys dat ons nie met hierdie vryheid aanstoot gee aan mense wat nog meen dat hulle hieraan gebonde behoort te wees nie.
In 1 Korintiërs 6 het Paulus na ‘n belangrike riglyn verwys: “Alles is my geoorloof, maar nie alles is heilsaam nie” (12). Dan spel hy praktiese voorbeelde uit om te illustreer hoe hierdie beginsel in die Christelike geloofsgemeenskap werk. Die voorbeelde word in 1 Korintiërs 10:23v met ‘n herhaling van die beginsel afgesluit:
Daar is mense wat sê: “Alles is geoorloof.”
Ja, maar nie alles is heilsaam nie.
“Alles is geoorloof,” sê hulle.
Ja, maar alles is nie opbouend nie.
‘n Mens moet nie sy eie voordeel soek nie, maar dié van ander.
Ons teks is ‘n voorbeeld van hoe hierdie riglyn toegepas word in ‘n probleemsituasie in Christus se gemeente.
Wat is heilsaam?
Hoe weet mens wat heilsaam en opbouend is? Wat is die toets wat jy daarvoor gaan gebruik?
In vandag se teks is heilsaamheid dit wat opbouend vir die geloofsgemeenskap is.
Die kwessie waaroor dit gaan is vleis wat aan afgode geoffer is (1). Min (indien enige) gemeentes worstel vandag met hierdie kwessie. Die beginsel wat Paulus neerlê geld egter vandag net so vir ons. Dit is net so aktueel soos wat dit was onder die lede van die gemeente in Korinte in die eerste eeu n.C.
Mag Christene aan so ‘n sisteem deelneem deur die vleis te eet wat aan ‘n afgod geoffer is?
Vanaf vers 4 sluit Paulus by die Korintiërs se kennis aan, en erken dat daar eintlik niks aan die vleis verander as dit aan ‘n afgod geoffer is nie. Om die waarheid te sê, daar is eintlik geen ander God, behalwe Een nie. En al sou mense dink daar is sogenaamde gode bestaan hulle nie vir ons nie, want ons het net een God, die Vader en Sy Seun deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.
Maar nou is dit so dat nie almal dié kennis het nie, en uit liefde vir hulle, moet ‘n mens hulle onkunde in ag neem, en nie iets doen waardeur hulle gewete, wat alreeds swak is, nog verder verswak sal word nie. Hulle is so gewoond aan afgode, dat die eet van afgodsvleis hulle uit hul geloof kan laat struikel, en kan laat terugkeer na afgodsdiens.
Ons vryheid om te eet mag nooit ‘n aanleiding vir ander word om te sondig nie.
Jou vryheid mag nie ander laat sondig nie. Die beginsel van liefde word eers vasgelê. Jou medegelowiges se standvastigheid in die geloof is belangriker as jou kennis en vryheid in geloof.