Teks: Handelinge 3: 1-26
Liedere: 188, 241, 197
- Die bediening gaan steeds in die tempel voort
Net soos wat Jesus gemaak het, gaan die dissipels steeds na die tempel. Daar was nog nie ‘n gevestigde Christelike kerk wat van die tempeldiens van die Jode onderskei kon word nie. Dit is ‘n interessante plek om voort te gaan met die bediening. Dit is juis die plek waar Jesus, saam met met Sy dissipels, soveel teenkanting beleef het.
- ‘n Wonder gebeur in die Naam van Jesus
Soos Jesus, gaan die dissipels voort met die bediening. Die verskil is egter dat hierdie werk nou sonder Jesus voortgaan. Die werk gaan egter in die Naam van Jesus voort. Selfs net in Sy Naam is daar reeds krag, want Sy Naam simboliseer Hom. ‘n Verlamde man vra om aalmoese. Die dissipels gee egter vir hom soveel meer. Hulle gee hom die gebruik van sy bene terug.
- Sonder middele
Dit wat jy van ons vra het ons nie…. Die bedelaar vra vir geld. Dit kan hulle nie gee nie. Die dissipels het nie volgens aardse terme veel nie. Hulle is sonder ‘n vaste inkomste en besit in wese eintlik nie veel nie, maar in die Naam van Jesus besit hulle soveel meer.
- Die dissipels kan hom veel meer gee
Hulle gee hom genesing. Hulle gee hom iets waarvoor hy uit sy eie nooit eens sou dink om te vra nie. Hoe sou sy lewe tot hier gelyk het? Verseker nie maklik nie. Sy familie moet hom tot hier dra. Alle moontlike opsies om hom te genees sou hom uitgeput wees. Al wat hom oorbly is die stryd om oorlewing.
- Sy verstaanbare reaksie – Vreugde en blydskap
Dit wat vir hom ontmoontlik gelyk het gebeur. Dit waarmee hy nou al vrede gemaak het en aanvaar het, verander oombliklik. Daarom die ongelooflike vreugde en blydskap.
- Maar daar is ook verbasing
Hierdie wonder gebeur in die openbaar. Baie mense sien dit gebeur. Hulle ken die man al baie jare. Daarom is daar ook geweldige verbasing oor wat gebeur.
- Petrus verkondig die Evangelie
Petrus gebruik die geleentheid om aan die aanwesiges die Evangelie van Jesus te verkondig. Die hele gebeure rondom Jesus se kruisiging is nog vars in hulle geheue. Hulle kan nie ontken wat so pas met die bedelaar gebeur het nie.
- Dit gebeur in die opstandingskrag van Jesus
Hulle sien die wonder. As hulle dit wil verstaan, moet hulle die opstanding van Jesus ook glo, want dit het in daardie krag gebeur. Die profete het die al lankal aangekondig. Hy lê dit vir hulle uit.
- Jesus wil steeds die mense seën
Die mense moet besef dat God alle mense wil seën. Dit het nie met Golgota geëindig nie, want Hy het opgestaan en leef vir ewig.
- Dan die verrassing
Die seën geld selfs vir die wat Hom laat kruisig het. Daar is nie uitsluitende of beperkende voorwaardes vir Sy liefde nie. Dit is die onbegryplike Godelike liefde.
Die vraag aan die skare en ook nog vandag aan ons: Het julle hierdie begrip? Kan julle Jesus sien soos wat ons Hom sien?