Tema: Johannes 15:1-8
Liedere: 157, 250, 524
- Die mens is van nature nie geneig om vrugte te dra nie.
Jesus is besig om met Sy dissipels oor ‘n baie belangrike saak te praat. Jesus het die verwagting dat die dissipels in Sy voetspore sal volg en die taak waarmee Hy begin het sal voortsit. Hy verduidelik dit dan aan die hand van die beeld van ‘n wingerdstok. Die lote dra dan vrugte. Ongelukkig verduidelik Jesus dan aan Sy dissipels dat dit nie ‘n natuurlike reaksie is nie. Die mens is eerder geneig om hom deur sy menslike, sondige natuur of aard te laat lei. Die gevolg is dus ‘n lewe van selfsug en eiebelang.
- Vrugte dra vind slegs in Christus plaas.
Jesus verduidelik dan aan Sy dissipels dat die dra van vrugte net moontlik is as die loot geanker is in die wingerdstok en die lewensap wat die wingerdstok verskaf gebruik. Die loot kan nie sonder die wingerdstok bestaan nie. So ‘n loot word afgesny een eenkant gegooi om droog te word en dan later as brandhout verbrand te word. ‘n Mens kan slegs waarlik ‘n lewens loot vir Jesus wees as dit wat jy daarvoor nodig het deur Jesus self verskaf word.
- As ‘n loot in die wingerdstok is, sal daar gesnoei word.
‘n Loot wat net gelos word om te groei soos wat hy wil, raak ongelukkig later heeltemal buite beheer. ‘n goeie boer sal dit nooit toelaat nie. Daarom sal die boer deur sy wingerd stap en die lote wat nie na wense vrug dra nie, reg snoei. Indien hy dit nie doen nie gaan ‘n klomp van die lewensap verlore. So ‘n loot sal lang lote maak en baie blare voorbring, maar bitter min vrug dra. Indien ‘n mens dus in Jesus geanker is, sal jy deur God gesnoei moet word. Dit is onafwendbaar. Dit is ‘n herhalende proses. Daar word elke jaar seker gemaak dat die nuwe groei na wense is.
- God word verheerlik deur vrugdraende lote.
Die rede waarom Jesus so sterk hieroor voel, is omdat die mens geskape is om God te verheerlik. Die manier hoe hierdie verheerliking plaasvind is deur die vrug wat ons tot eer van God dra. Indien die vrug ontbreek is daar dus fout met die praktiese uitleef van ons geloof. Geluk neem God self die inisiatief om ons reg te snoei sodat ons kan word wat Hy wil hê ons moet wees.
- Jesus vra volharding van Sy volgelinge.
En dit is ‘n lewenslange proses. Daar is nie iets soos aftrede wanneer ‘n mens Jesus navolg nie. Jesus vra dus in hierdie gedeelte dat Sy volgelinge ware navolgers van Hom sal wees en dat dan sal uitloop in die vrug wat tot eer van God gedra word. Bly volhardend vrug dra soos wat Jesus van ons vra.