Preekskets 20 Mei 2018 Ds Jacques – Die eindbestemming trek jou vorentoe


Teks:  Handelinge 2:1-13 en Jakobus 3:13-18

Liedere:  164, 213, 295 en 442

 

Leighton Ford, ‘n Kanadese teoloog en bekende spreker oor leierskap, het gesê dat daar twee gevare is waarteen die kerk voordurend moet waak:  Isolasie van die wêreld en nabootsing van die wêreld.  Albei hierdie gevare het die potensiaal om die kerk heeltemal irrelevant te maak.  As lidmate hulself heeltemal van die wêreld isoleer, is die voordeel dat die lidmate soos in die tyd van die kloosters, erge verdieping in hul geloof kan ervaar, maar heeltemal realiteit met die wêreld kan verloor.  Geen uitreik en verkondiging vind dan plaas.  Aan die ander kant kan lidmate so deel word van die wêreld dat daar later geen waarneembare verskil met die wêreld sigbaar is nie.  Dan kan daar ook geen impak plaasvind nie.

Die afgelope week het ons tydens die Pinksterreeks gehoor dat die Here ‘n droom het dat ons as gelowiges geestelike volwasse moet word.  Dit is ‘n voortdurende, lewenslange proses.  As ons egter so lank moet fokus op ‘n einddoel kan dit maklik gebeur dat ons met verloop van tyd begin om ons visie of droom af te skeep.  Hoe moet ons dan maak om die droom lewend te hou.

Ons fokus op die begin.  Ons dink terug aan ons lewe voor ons onmoeting met Jesus.  Ons dink aan wie ons toe was en aan wie Jesus ons die tussentyd gemaak het.  Hierdie fondament stoot ons dan van agter af.

Ons fokus op die einde.  Die droom trek ons van voor af.  Ons dink aan wat vir ons by die eindstreep wag.  Die vreugde en blydskap wat Jesus vir ons beloof trek ons voorentoe.  Die vrees vir mislukking of die vrees vir die teleurstelling as ons nie gaan volhard nie en dan uitmis op die prys, motiveer ons verder.

Die moeilike tyd is die tussen-in tyd waarin ons nou leef.  Dit is die moeilike deel.  Ons is nog nie daar nie, maar ons gedeeltelik oppad.  Die Woord sê ons is soos atlete wat bly volhard om by die eindstreep uit te kom.

Die grootste motiveerder is egter die sekerheid wat die Woord ons gee dat die oorwinning in Christus reeds behaal is.  Dit moet ons fokus wees.  Dit moet ons strewe wees.  Die nagmaalsmaaltyd is dan ‘n voedingstasie op die pad wat ons weer krag gee om verder te gaan met die reis.

Kom ons bly volhard en sien met verwagting uit na die eindstreep wat vir ons wag.