Teks: Romeine 8:1-17
Liedere: 454:1,2 198:1,2,3 207:1,3,5 Flam: Hemelvader ek aanbid U
Vandag begin die Koninkrykstyd in die kerklike tradisie. Ons dink daaraan dat Jesus die Koning van die hele wêreld is en dat hy ons as Sy gestuurdes in die wêreld gebruik om Sy koninkryk op aarde uit te brei. Ons vier ook Drie-eenheidsondag. Ons dink aan die verskillende maniere waarop God Homself aan ons bekend maak.
Vandag se teks lê klem op die verskil tussen mense wat probeer om aan die wet gehoorsaam te wees en op so ‘n manier versoening met God te bewerk, teenoor mense wat Sy genade vir hulle neem. Paulus gebruik die terme lewe en dood om dit vir ons te verduidelik. Mense wat volgens hul sondige natuur leef, is op pad na die dood, maar mense wat hulself aan die Gees van God gee en hulle deur die Gees laat beheers, is nuwe, vry mense. Daar bestaan ‘n skerp onderskeid tussen die twee.
Maar ons kan steeds in die vlees leef, al is ek uit die mag van die sonde en die dood verlos. Ons is egter vrygemaak om ‘n nuwe, vrygestelde lewe te kan leef. Paulus beweeg nou weg van die negatiewe beskrywing van ‘n lewe sonder die Gees, na ‘n volledig positiewe beskrywing van ‘n lewe deur die Gees.
Gelowiges word daaraan herinner dat ons erfgename van God is. Ons is waarlik kinders van God. Omdat ons aangeneem is en kinders van God gemaak is, staan ons onder ‘n verpligting teenoor die Gees. Ons skuld ons Hemelse Vader alles. Ons is nie meer slawe nie, maar vry.
Paulus stel die kontras tussen ‘n vryman en ‘n slaaf. Die Romeine het ook kinders aangeneem, maar dit het gewoonlik net plaasgevind as ‘n egpaar kinderloos is en daar ‘n familielid of kennis was wat as gevolg van hul moeilike ekonomiese situasie bereid was om hul kind af te gee en so te laat versorg. Aanneemkinders het ‘n laer status as bloedkinders gehad. Vry slawe is as nog laer gereken. As ‘n gesin ‘n slawekind sou aanneem was sy of haar status altyd die laagste in die gesin.
Hier sien ons egter iets ongewoons. God neem ons, wat slawe was van die sonde, aan, maak ons kinders van Hom, broers en susters van Jesus en gelyke erfgename met Hom. En die Gees is hiervan ‘n getuie.
Dit gee ons natuurlik ‘n nuwe status, ‘n nuwe identiteit, vryheid en mag. Ons leef steeds in hierdie wêreld en daarom gaan ons saam met Jesus ly tot by die wederkoms, wanneer ons erfdeel aan ons gegee word. Die stryd is egter nie gelyk aan skeiding van God nie. God is in die stryd by ons en ons leef met die wete dat die erfdeel vir ons wag as ware kinders van God.