Teks: Johannes 6:41-51
Liedere: 164:1,2 200:1,2 199:1,2,3
In vandag se teks vertel Jesus die hoorders dat Hy deur God van die hemel na die aarde gestuur is om ons van ons sondes te kom verlos. Hy gebruik die voorbeeld van brood wat deur honger mense geëet word om te illustreer hoe ons Hom nodig het om ons geestelike honger te stil. Hierdie gedagte is egter vir die Jode ondenkbaar en onaanvaarbaar. Hulle hoor slegs die deel waar Hy vir hulle sê dat Sy liggaam vir hulle gegee word om te eet. Die dieper betekenis van wat Hy sê word nie deur hulle gehoor nie.
Vir die Jode wat in ‘n wêreld leef waar mense die vreeslikste dinge by die offer-altare doen, is dit wat Jesus vir hulle sê heeltemal ondenkbaar. Hulle het baie spesifieke voorskrifte oor hoe hulle veronderstel is om hul offer te bring. Selfs die dissipels, wat ook maar Jode is, sukkel om te hoor wat Jesus vir hulle aanbid en leer.
Jesus verwag egter van hulle dat hulle Hom moet vertrou en ‘n geloofsprong in die donker neem. Hierdie sprong berus op dit wat God doen. Selfs al voel dit vir hulle onlogies, vra Hy van hulle om dit steeds te doen. God bied vir sondaars vergifnis van hul sonde aan deur Sy Seun as ‘n offer te stuur. Hierdie geskenk is onverdiend, volledig en ewig. As ‘n mens die geloofsprong neem kom jy agter dat dit wat Jesus bied iets is waarna jy al jou hele lewe lank smag. Jy besef dat die geestelike honger alleenlik deur Hom gevooed kan word. Die genade wat God dan vir jou deur Jesus bied word vir jou onweerstaanbaar.
Wie in Jesus glo ontvang Hom op ‘n soortgelyke manier as wat ‘n honger mens kos vir sy hongerte sal ontvang. Die verskil is dat Jesus vir die mense leer dat die Israeliete tydens die deurtog in die woestyn ook deur God gevoed is, maar hierdie voedsel het selfs tydelike verligting van hul hongerte verskaf. Hulle het weer honger geword en dan ook later gesterf. Sy liggaam as die Lewende Brood voed hul geetstelike honger permanent. En die heel belangrikste om te verstaan is dat dit hulle van hul sondes vergeef en so veroorsaak dat hulle die ewige lewe ontvang.
Watter wonderlike groot geskenk is Sy liggaam nie vir ons ons nie. Ons leef deur Hom wat Homself vir ons gegee het. En ons leef nie net met die wete en verwagting dat ons eendag vir ewig by God sal wees nie. Ons leef nou reeds met die sekerheid in ons hart. Dit roep ons op tot dankbaarheid en gehoorsaamheid aan God. Neem die kans. Vat ‘n kans. Die geloofsprong is die moeite werd.