Preekskets 26 Augustus 2018 Ds Jacques – Bly op julle pos


Teks:  Efesiërs 6:10-20

Liedere:  84:1,4   196:1,2,4    100:1,2,3

 

Op Bybelsondag vier ons die voorreg daarvan om die Bybel in ons eie taal te kan hê.  Die Bybel leer ons hoe ware navolgers van Jesus se lewe behoort te lyk.  As dit nie vir die Bybel was nie sou ons werklik gesukkel het om te kon verstaan hoe ons lewe as navolgers van Jesus moet wees.

Soos wat ‘n soldaat op sy pos moet wees om seker te maak dat hy betyds die vyand in die omgewing kan raaksien en genoeg tyd het om sy mede-soldate te waarsku sodat hulle paraat kan wees om teen die vyand te kan veg, so moet ons as gelowiges ook paraat op ons poste vir God bly.

Efesiërs 6 leer ons dat ons die volle wapenrusting moet aantrek sodat ons voorbereid kan wees op enige aanslag wat ons mag tref.  Om werklik weerstand te kan bied, is daar ‘n paar dinge wat ons ingedagte moet hou.  Bo en behalwe die wapenrusting waarvan die teks ons leer en wat ons moet aantrek, moet ons ook die volgende weet:

  • Ons moet ons vyand ken. Indien ons weet teen wie ons veg, kan ons beter voorbereid wees om ons posisie teen die vyand in te neem en ook ons posisie te hou.  Dit is baie moeilik om teen ‘n vyand te veg indien ‘n mens nie eens weet teen wie dit is wat jy moet veg nie.  Die vyand moet herken kan word.
  • Ons moet gedurig bid sodat ons met die een wat ons die opdrag gegee het om as soldate te veg, kan kommunikeer, sodat ons ons opdrag reg kan verstaan.
  • Ons moet die Here vertrou om ons deur Sy Heilige Gees te vul sodat ons die nodige krag kan hê om teen die vyand te staan. Ons moet verklaar dat ons nie oor genoeg krag beskik om waarlik te kan veg nie, maar met die inwoning van God se Gees in ons verander alles.

Hoe lyk die geveg waarin ons staan of wat moet ons doen as ons besig is om te veg?  Ons moet met vrymoedigheid getuig.  Dit is die manier hoe ons vir die Here opstaan en veldslae wen.  Aanval is die beste vorm van verdediging.  Daarom val ons die vyand aan deur oor ons Verlosser te getuig.  Daarteen kan geen vyand staande bly nie.

Hierdie teks roep ons op om tot die einde op ons pos te bly.  Kom ons maak seker niks verlei ons en dryf ons weg van die belangrike werk waartoe God ons roep nie.

 

Ds Jacques