Teks: Jakobus 3:13-4:10
Liedere: 190:1,2,3 197:1,2 471:1
Die teks begin met ‘n retoriese vraag: Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder julle? Dalk is daar sulke mense, dalk nie. Dalk sal iemand homself kom aanmeld. Dalk sal die gemeenskap ‘n paar mense kan nomineer.
Maar wat meer van belang as hierdie vraag is en dit is waaraan Jakobus wil hê dat die hoorders moet dink: Hoe lyk so ‘n persoon? Jakobus poog in hierdie teks om die mense aan die dink te sit. Hy wil hê dat hulle oor werklike wysheid teenoor aardse wysheid moet dink. ‘n Goeie wegspringplek vir mense om werklike wysheid te verstaan is om na Spreuke te gaan kyk. Reeds in Spreuke 1:7 leer Salomo ons dat werklike wysheid is om die Here te ken.
Volgens hom is daar 2 stelle waardes waarvolgens ‘n mens kan leef. Die oortuigings of die waardes wat vir ons die swaarste weeg is bepalend van wie ons is en hoe ons gaan optree. As ek volgens reëls en wette leef, doen ek net wat ek moet terwyl ek weet mense is van my bewus en mense sal van my optrede bewus wees. As ek egter volgens waardes en oortuigings leef, leef ek soos wat ek moet, op ‘n geestelike wyse manier, selfs wanneer niemand weet waarmee ek besig is nie. Ek doen wat ek doen omdat dit die regte ding is om te doen en omdat my waardes en my oortuigings my daartoe bring.
En dit is werklike wysheid. Die wysheid wat van Bo kom. Die hele Bybel leer ons hiervan en ook hoe ons lewe moet lyk. Indien die wysheid my lewe bepaal gebeur daar 2 dinge in my lewe. Die eerste gevolg is dat ek in die regte verhouding met God staan. Dit is my strewe om my verhouding met God te verinnig. Vanuit hierdie verhouding volg daar dan ‘n verdere strewe. Die strewe om vrede te maak. Ek wil dan graag hê dat die verhouding waarmee ek nou in God staan oorloop na die mense rondom my. Ek staan bekend as ‘n vredemaker, soos wat Jesus vir ons die Groot Vredemaker is.
Volgens Jakobus is dit eintlik ‘n eenvoudige keuse om te maak. Indien ek ‘n vriend van die wêreld is, kan ek nie ‘n vriend van God wees nie. Jakobus gaan so ver as om te sê dat ons dan ‘n vyand van God is. Die Gees wil ons heelhartig God s’n maak. God weet wat is vir ons die beste. Die manier hoe dit gebeur is om ons aan God te onderwerp. Die vraag aan die begin: Is daar ‘n wyse en verstandige mens is dan eintlik ‘n individuele vraag, eintlik ‘n vraag waar ons onsself voor God moet evalueer: Word ek deur God se wysheid gerig? Indien nie moet ons by daardie punt kom waar ons ons aan God onderwerp.