Liedere: 203:1,2 251:1,3 296:1,2 167:1,2
Teks: Hebreërs 9:23-28
- ‘n Eenmalige offer vs ‘n herhalende offer
Vir die Jode was die offerdiens heeltemal deel van hul alledaagse lewe. In die woestyn, met hul reis na die beloofte land, het die verskillende stamme rondom die tabernakel gewoon en die offers wat elke dag gebring is, het die reuk daarvan deur die kamp laat versprei. Later sou hulle ‘n pragtige tempel in die naam van die Here in Jerusalem bou. Ook hier het die reuk van die offers die stad gevul. Hulle het die betekenis van wat hier gebeur verstaan en was daagliks daarmee gekonfronteer. Dan was daar ook die jaarlikse feeste waaraan hulle moes deelneem. Die belangrikste offer van die jaar het plaasgevind wanneer die hoëpriester die allerheiligste binne gegaan het en daar in die teenwoordigheid van die Here versoening vir sonde gevra het. Dit moes egter jaarliks plaasvind. Nou kom Jesus met ‘n nuwe offer. Hy gee Homself as die offer. Hy sterf aan die kruis en sê vir die mense dat die prys vir sonde finaal en volledig betaal is. Daar hoef nooit weer enige offers gebring te word nie en niemand, wat hierdie versoening wat Hy bied aanvaar, hoef ooit weer skuldig voor God te staan nie.
- Namaaksel teenoor realiteit
Die briefskrywer verduidelik dan aan die lesers dat dit waarmee die priesters en die volk oor die eeue besig was, slegs namaaksels en heenwysings was na die ware offer, naamlik Jesus. Al die offers het vooruit gewys na dit wat Jesus sou kom doen. Daarom kan die mense Sy offer nou as die ware aanvaar.
- ‘n Nuwe era breek aan
As gevolg van dit wat Jesus kom doen het, breek daar nou ‘n nuwe era vir gelowiges aan. ‘n Era waarin daar uitgesien kan word na die wederkoms van Jesus. ‘n Era waarin gelowiges nou reeds deel kan hê aan die oorwinning wat Jesus bied en dan uit dankbaarheid daarvoor as getuies van Jesus kan leef.
- In hierdie heerlikheid van Jesus lê ons hoop
As ons dit begryp kan ons die eerste keer werklik vanuit hoop leef. ‘n Hoop wat nie op ‘n risiko gebou word nie, maar ‘n hoop wat vanuit die heerlikheid van Jesus se opstanding geleef word. Aangesien Jesus reeds hierdie oorwinning vir ons gegee het kan ons nou uitsien na Sy wederkoms, nie met vrees vir ‘n groot oordeel wat vir ons wag nie, maar met vreugde, afwagting, blydskap en veral hoop dat ons vir ewig as God se kinders in Sy teenwoordigheid sal wees.