Preekskets 18 November 2018 Ds Jacques – Die nag wat die hele wêreld verander het.


Teks:  Matteus 1:18-25 en 2:1-12, Lukas 1:26-38, 46-56 en 2:1-20

 

Wanneer ons na al die verskillende teksgedeeltes kyk klink dit vir ons so mooi en so bekend, maar daar bestaan ‘n paar gevare in die lees van hierdie tekste:

  • Oorbekend

Ons kan so gewoond raak aan die bekende verhale dat ons dit nie regtig meer hoor nie.

  • Fabel of storie

Vir ander kan dit pragtig klink, maar mense kan daarna luister soos wat ‘n mens na kinderstories of fabels luister.  Ons hoor van die maagdelike geboorte, die skaapwagters, die ster en die sterrekykers, van ‘n koning wat baie nuuskierig is oor die geboorte van die seuntjie, maar wat eintlik wil hoor waar Hy gebore is sodat hy Hom kan vermoor.  So baie in die verhaal klink vir baie mense onmoontlik of sommer maar net na stories.

  • Histories en oud

Vir ander klink dit weer na verhale wat baie jare gelede afgespeel het en in die geskiedenis hoort.  Dit het dan nie noodwendig waarde vir die tyd waarin ons vandag leef nie.

  • Verkeerde doel

Laastens kan mense ook na Jesus se geboorteverhaal luister met die verkeerde doel, amper soos wat die koning gemaak het.  Dan luister ons daarna om te sien wat ons daaruit kan kry.  Ons moet leer om na Jesus, die Seun van God, in die tekste te soek.

Daarom moet ons ook nogsteeds vandag die teksgedeeltes lees en Kersfees vier.  Dit was in die Ou Testament belangrik vir die Jode om feeste te vier, die kinders te onderrig en die tradisies te hou, ter wille van die behoud van die geloof en die tradisies.  Vandag moet ons nogsteeds onthou sodat die volgende generasies net so opgewonde kan wees soos wat die mense in die tyd van Jesus was, veral deur die getuienis van die dissipels, maar ook sodat ons kan voortgaan met die geloof soos ons voorgeslagte.

Die antwoord om Kersfees reg te vier en die betekenis van die Seun wat in daardie nag vir ons gebore is reg te verstaan, lê daarin dat ons in ‘n verhouding met Hom en die Vader moet leef.  Dit is alleenlik dan wanneer ons die woorde van hierdie teksgedeeltes regtig begin verstaan.  Dit is alleen dan wanneer ons dit as die Ware Evangelie van God ervaar.  As ons hierdie tekste sonder geloof en sonder ‘n verhouding met God lees, bestaan die gevaar altyd dat ons dit verkeerd sal hoor.  Kom ons maak hierdie Adventstyd seker dat ons die tyd voor Kersfees gebruik om God se stem reg te hoor en Kersfees dan met die regte gesindheid te vier.

As ons die tekste met hierdie gesindheid lees word daardie nag vir ons werklik Die Nag wat die wêreld vir altyd verander het.