SKRIFLESING: Johannes 2:1-11
Die Evangelie van Johannes vra om met geloof gelees te word – om dieper te gaan soek na die ware betekenis van wat die Here vir ons wil sê. So is dit ook met hierdie eerste wonderwerk van Jesus, waar Hy die water in wyn verander het. Op die oog af gaan dit daaroor dat Jesus ’n jong bruidegom uit sy verleentheid wil red, deur te sorg dat daar genoeg wyn is vir die gaste wat by die bruilof opgedaag het. Maar as mens dieper begin delf, kom daar ’n ander boodskap na vore. Die water wat gebruik word vir die wonderwerk, is die water wat bedoel was vir die Ou Testamentiese reinigingsrituele wat gevolg moes word voor ’n ete, waar die hande en voete van die gaste eers seremonieel gewas moet word. Deur hierdie water in wyn te verander, wil Johannes vir ons daarop wys dat Jesus finaal gebreek het met hierdie seremoniële wette en dat Hy ’n nuwe era inlei.
Maar Johannes wil nog méér vir ons sê. By ’n bruilof was dit die verantwoordelikheid van die bruidegom om die wyn te voorsien. As Jesus die water in wyn verander, dan wil Hy vir ons kom sê dat Hý die Ware Bruidegom is (Joh 3:29: “Die bruidegom is die een aan wie die bruid behoort…” met die verdere betekenis (Openbaring 21) dat die bruid (die kerk) wag op die koms van die Bruidegom (Jesus Christus).
Maar die boodskap gaan nog dieper. Jesus maak goeie wyn en Hy maak dit in oorvloed – baie meer en baie beter as wat die bruidegom by die onthaal in staat was om te doen. En dit vertel vir ons dat die Here Jesus gekom het om vir ons die lewe te gee om dit te geniet – (L)lewe in oorvloed (Joh 10:10). Ons vind nie meer die sin vir ons bestaan in die nakoming van seremoniële wette nie, maar ons vind die sin van ons bestaan daarin dat ons aan Christus verbind is en die lewe saam met Hom lééf. Jesus het die wetskanne in feeskanne verander!
God het ons nie oorspronklik as mense geskep om later, as Christus in ons lewens inkom, van ons Christene te maak nie. God maak van ons Christene sodat ons weer waarlik mens kan word.