Teks: Lukas 5:1-11
- ‘n Boot word ‘n preekstoel
Die teks begin waar baie mense rondom Jesus saamdrom om na Hom te luister. Dan sien hy vir Petrus en die res van die vissermanne wat aan val gekom het nadat hulle die hele nag probeer visvang het. Hy vra hom om op sy boot te klim en van daar vir die skare te preek. Petrus stem in en stoot sy boot ‘n paar treë van die wal af weg. Jesus begin met die skare praat terwyl Petrus en die res van die vissermanne hulle nette skoonmaak en reg kry vir die volgende dag.
- Petrus beland in die kollig
Skielik verskuif Jesus se fokus van die skare na Petrus. Hy versoek Petrus om weer op die meer uit te vaar en te probeer visvang. Petrus probeer ordentlik wees, aangesien Jesus ‘n klein rukkie gelede sy skoonma gesond gemaak het. Hy weet tog dat hulle die hele nag probeer het en niks kon vang nie.
- Jesus is nie onseker oor die uitkoms nie
Alhoewel Petrus en die res van die vissermanne dalk kon dink dat dit tydmors is en dat hulle eintlik net weer hulle nette gaan vuil maak en dit daarna weer sou moes skoon maak, weet Jesus presies wat hier gaan gebeur.
- Jesus bevestig en beklemtoon Sy gesag
Die vissermanne vang so ‘n groot skool vis dat hulle eers bang is dat die nette gaan skeur en dan besef dat die nette nie gaan skeur nie en dat hulle dalk omgedop kon word. Hulle roep hul vriende om hulle te kom help. Albei bote is tot bo vol vis.
- Petrus bely sy sonde
Skielik maak alles wat deur Jesus gesê is en wat Petrus Jesus sien doen het sin. Hy besef dat Jesus werklik die Seun van God is. Hy val, onder die besef van sy sonde, voor Jesus se voete neer en verklaar dat hy nie waardig is om in Jesus se teenwoordigheid te kan wees nie. Jesus stel hom gerus.
- Wat ons as dissipels laat struikel, is wat prysgegee moet word
Petrus laat alles staan en volg Jesus van hierdie dag af as dissipel. Die gevolg is dat Jesus se lewe ‘n heeltemal nuwe lewensrigting inslaan. Waar hy eers vis gevang het, dui Jesus vir hom deur ‘n wonder aan watter impak hy in die vang van mense gaan maak. Vir ons geld dit steeds vandag. Ook ons moenie bang wees om deur Jesus aangeraak en gestuur te word nie. Jesus maak ons bekwaam en gebruik ons dan.