Teks: Lukas 6:27-42
Liedere: 202:1,2,3 309:1,2,3 284
- Om om te gee vir mense van wie jy regtig nie hou nie
Volgens Lukas se weergawe van Jesus se bergpredikasie, leer Jesus vir ons om ‘n waardesisteem te leef wat omgekeerd is van dit wat gewoonlik geleef word. Jesus verwag van ons ‘n lewe wat nie selfgerig geleef word om so kort termyn voordele te verkry nie, maar om ‘n toegewyde lewe aan God te leef. Jesus leer ons om barmhartigheid te leef. Selfs teenoor die mense van wie ons regtig nie baie hou nie. Dit vra van ons ‘n lewe van vrygewigheid, sonder veroordeling. Ironies genoeg, wanneer ‘n mense eers van jou eie terkortkominge bewus word en iets daaraan begin doen, is jy juis in ‘n soveel beter posisie om ander te help. Die bron van ‘n lewe wat so geleef word en goed doen, is ‘n hart van iemand wat aan God behoort.
- Liefde vra niks in ruil nie
Van gelowiges word gevra om juis liefde te toon aan die wat dit die heel nodigste het. Hulle wat heeltemal sonder liefde is. Baie keer juis die wat ons as ons vyande ag. Hoe moet so ‘n liefde dan lyk? Ons moet leer om met Jesus se oë na die wêreld om ons te kyk. Dan moet ons die wat in nood verkeer seen, goed doen aan hulle en sonder voorbehoud vir hulle bid. Die geheim lê daarin om by ‘n punt te kom waar dit nie meer jy as individu is wat na ‘n ander individu kyk nie, maar ‘n persoon wat besef wat Jesus vir ons gedoen het, wat uit daardie dankbaarheid na ander kyk en dan daarna smag dat hierdie persoon ook daardie ervaring mag hê.
Niks kan barmhartigheid keer om grense af te breek nie. Dis ‘n moeilike waarde wat Jesus ons leer. Iets wat ons veel eerder probeer vermy. Jesus leer ons ook hoe dit moontlik is om so ‘n lewe te kan leef: Besef dat God vir almal lief is, goed of sleg; moenie fout vind nie; kyk eerder na jouself; deel dit wat jy al in jou lewe geleer het met ander. ‘n Indiaanse spreukwoord sê: Jy kan nie iemand anders veroordeel voordat jy nie self eers ‘n paar myl in sy mokasins geloop het nie. Eers wanneer jy iemand anders se lewenskwessies begin verstaan, kan jy werklik verstaan waarom is soos wat hy is en optree soos wat hy optree.
Ons optrede dra geweldige krag. Gebruik dit tot eer van God.