Preekskets 24 Maart 2019 Ds Jacques – Stel jou hoop en vertroue in die Here


Teks:  Jesaja 55:1-13

Liedere:  159:1,2    247    203:1,2,3

 

Die Jode is in ballingskap in Babilon.    Met verloop van baie jare het hulle heeltemal tuis begin raak in die vreemde land.  Baie het van die verbond wat God met hulle voorvaders gesluit het vergeet.  ‘n Nuwe generasie is in Babilon gebore en het daar opgegroei.  Hulle ken geen ander land, kultuur of gebruike as dit wat hulle in Babilon ken nie.

Jesaja is egter nog een van die ouer gardes.  Hy onthou nog hoe die lewe in Jerusalem was.  Hy onthou nog die Here se verbond  met Israel.  Daarom herinner hy die mense aan wie hulle in die Here is.  Hy herinner hulle aan hul identiteit as volk.  Hy wil hê die Jode moet besef dat die ballingskap nie die einde van die Here se pad met hulle as volk is nie.  Die Here het veel meer ingedagte.

Baie mense het met die idee geleef dat die Here hulle vergeet het.  Hulle het geglo dat die Babiloniers se gode sterker moes wees as hulle Here, want hulle Here kon hulle nie teen die Babiloniers beskerm nie.  Jesaja bring ‘n nuwe perspektief.  Hy wil hê dat die mense tot inkeer moet kom.  Hulle moet besef dat dit wat met hulle gebeur het, ‘n straf op hul ongehoorsaamheid was.  Die Here wil die Jode as ‘n herstelde volk terugneem na hul eie land.

As ons nie ‘n oog vir die Here se plan met ons lewe het nie, voel ons gedurig te na gekom en verontreg.  Dit is soos wat die Jode gevoel het.  Jesaja moet hulle nou tot nuwe insigte bring.  Hulle moet besef dat die Here ‘n veel groter plan met hulle het.

Hy herinner hulle daaraan dat die verbond wat God met hulle het vas staan.  Dit sal nooit verander nie.  Wat hulle in die laaste jare beleef het, was dus nie God se onttrou nie, maar die gevolg van hulle onttrouheid. God belowe om weer alles vir Sy volk te gee, mits hulle tot inkeer kom.  Hy verwag van hulle dat hulle moet terugdraai na Hom toe en dan in gehoorsaamheid teenoor Hom moet leef.

Die wonderlike uitnodiging wat Jesaja aan die Jode rig is vir alle Jode bedoel.  Niemand word uitgesluit nie.  Jesaja wil die mense leer dat inkeer of bekering en gehoorsaam leef of die doen van barmhartigheid, hand aan hand gaan.

Vir ons wat na die koms van Jesus op aarde leef, geld die uitnodiging steeds.  Ook ons word genooi om deur geloof deel te kry aan die verbond van genade, maar soos met die Jode, moet ons besef dat ons dade en belydenis ooreen moet stem.   God se Woord staan vas en is tot groot seën vir almal wat dit hoor, maar dan moet ons bereid wees om daarna te luister.