Preekskets 14 April 2019 Ds Jacques – God is in ons lewens teenwoordig


Teks:  Psalm 31

Liedere:  168:1,2,3    508:1,2    167:1,2

 

As kind het ons almal speletjies soos aan-aan gespeel waar daar êrens ‘n plek van veiligheid of ‘n den was waarheen ‘n mens kon vlug sodat niemand jou kon vang of kon aan maak nie.  Met Palmsondag word ons daaraan herinner dat Jesus na die aarde toe gekom het om onder ons te kom woon sodat ons by hom skuiling kan vind.

God is nie fisies, sigbaar hier by ons nie en dit maak dit vir baie mense moeilik om Sy teenwoordigheid te ervaar of dit as ‘n realiteit te sien.  Dan glo mense teories dat God alomteenwoordig is, maar dit bly net daar.  Dit word nooit ‘n werklike belewenis van iemand wat elke dag in ‘n mens se lewe is nie.  Die gevolg is dat mense dan verward kan raak oor die idee van God wat in menselewens teenwoordig is.  God wil egter hê dat ons Hom so persoonlik en intiem in ons lewe moet leer ken en ervaar dat ons bewus raak van Sy bemoediging en vertroosting.  As ons iets daarvan begin verstaan en ervaar gee dit vir ons sekerheid in ons lewe.

Dawid skryf vir ons in Psalm 31 van sy belewenis van God in sy lewe.  Dawid ervaar baie teenspoed in sy lewe as gevolg van die posisie waarin hy homself as die nuut aangewysde koning bevind.  Maar in hierdie Psalm wys hy vir ons hoe sy vertroue in God juis tot sy reg kom in die tye van swaarkry.  Dis juis dan wanneer hy van God se teenwoordigheid verseker is en glo dat sy tye in God se hand is.

Die vraag wat ons nou kan vra is:  Maar hoe is God in ons lewe betrokke?  Hy ervaar dat God die een is wat sorg vir die goedheid in sy lewe.  Dawid leer ons dat Hy God leer kan as die een wat sy veiligheid waarborg.  Hy is soos die kinders se plek van veiligheid, die plek waarheen jy kan vlug as jy in gevaar verkeer.  Hy beskryf God as Sy rots en bergvesting.  Hy sien God se teenwoordigheid in sy lewe raak in die sinvolheid wat God aan sy lewe gee.  Deur God verstaan hy die lyding beter en gee God se teenwoordigheid in sy lewe vir hom sin in die lewe.  Deur God se daar wees kry Dawid hoop in sy lewe.

Terwyl ons aan sinvolle dinge werk, kan ons leef in die wete dat lyding ook sin het, dat dit ons lewe vorm en ons lewens in ‘n rigting stuur waar ons opnuut kan dink oor wat die lewe werklik sinvol maak.