Teks: Handelinge 11:19-30
Liedere: 8:1,2,3 25:1,2 Halleluja 346:1,3,11
- Vervolging bring groei
Al die volgelinge in Jerusalem deel nog nie in Petrus se oortuiging dat die Evangelie na alle mense reg oor die wêreld geneem moet word nie. Die oorgrote meerheid se uitsluitlike fokus is steeds om die Evangelie aan mede-Jode te verkondig. Met die dood van Stefanus besef die gelowiges dat hulle lewe in gevaar verkeer as hulle in Jerusalem sou aanbly. Daarom begin hulle om te vlug na plekke soos Fenisië, Siprus en Antiogië. Net die volgelinge wat na Antiogië vlug is bereid om die Evangelie met die Grieke te deel.
Die mense kan nie anders as om notisie te neem van wat besig is om in Antiogië te gebeur. Mense kom in groot getalle tot bekering en ‘n drastiese verandering word in die samelewing waargeneem. Dit spreek die gelowiges in Jerusalem so aan dat hulle besluit om vir Barnabas as leraar na die gemeente te stuur. Hy is baie bly om die Here so kragdadig te sien werk. Hy het mense aangespoor en nog meer mense kom tot bekering. Hy besluit om vir Paulus te gaan haal om saam met hom te bedien. Vir ‘n volle jaar onderrig hulle die gemeente.
- Dra by tot nood
‘n Profeet kom profeteer by die gemeente. ‘n Groot hongersnood gaan die hele area tref. Dit spreek die gemeente so aan dat hulle besluit om ‘n insameling te hou om vir die behoeftiges in Jerusalem te voorsien. Dis so pragtig om te sien dat die nie-Jode, wat vroeër deur die gelowiges in Jerusalem verag is omdat hulle ook geglo het, nou die is wat die mense in nood help.
- Iets negatiefs in ons oë, is nie altyd negatief in die oë van die Here nie
As ons na die gebeure rondom Stefanus kyk, is ons eerste reaksie om te sê dat hierdie gebeurtenis die potensiaal het om die kerk te laat ontspoor, maar die Here gebruik hierdie tragiese gebeure om Sy volgelinge oor die bekende wêreld te verstrooi sodat die Evangelie op so ‘n manier na elke deel kan versprei. Dan verander die Here mense se gesindhede. Van veragting tot verwondering en aanbidding. ‘n Koskrisis word ‘n geleentheid om te kan dien en so te kan wys dat daar wedersydse liefde tussen die Joodse en nie-Joodse gemeente bestaan. Soms gebruik die Here jou om te gee, by ander geleethede moet jy leer om met grasie en dankbaarheid te kan ontvang. So draai die Here die rolle om en gebruik Hy ons vir mekaar in tye van nood.