Preekskets 9 Junie 2019 Ds Jacques – Ek sal My Gees op hulle uitstort en hulle sal as My profete optree


Teks:  Handelinge 2:1-21

Liedere:  450:1,2    449:1-4    442:1,2    440:1-4

 

Die sirkel word voltooi.  Na die skepping is daar ‘n wonderlike verhouding tussen God en Adam en Eva.  Na die sondeval is hierdie wonderlike verhouding egter geskaad.  Met die koms van Jesus na die wêreld begin die herstelproses tussen God en mens.  Jesus se kruisdood en opstanding bring redding vir die mens.  Jesus keer terug na Sy hemelse woning en stuur Sy Gees om vir ewig by ons te wees.  ‘n Wonderlike nuwe verhouding breek nou aan.  Die herstelsirkel is voltooi.

Die Gees van God word uitgestort.  Die dissipels wat met die Gees vervul is, ontvang besonderse krag.  Hierdie krag is nie fisiese spierkrag nie, maar eerder krag soos elektrisiteit.  Onsigbare, maar baie kragtig.  In hierdie krag lê geweldige potensiaal.  Soos met elektrisiteit wat die vermoë het om aparate te laat werk, word Geesvervulde navolgers van Jesus ook deur die Gees van God geaktiveer.  Sonder die inwerking van hierdie kragtige Gees is ons tog niks instaat nie.

Maar waarom ontvang gelowiges hierdie krag?  Sekerlik nie ter wille van onsself nie.  Nee, ons ontvang die krag van die Gees sodat ons getuies vir Jesus kan wees.  Kyk net watter effek het die Gees in die lewe van die dissipels.

Dis belangrik om te sien dat die Gees nie net op sekere van die dissipels uitgestort word nie.  Almal ontvang dit om daarmee getuies vir Jesus te raak.  Verder gee die Gees vir die dissipels die vaardigheid om in ongewone tale te begin praat.  Die Gees gee aan die dissipels dit wat hulle nodig het om die taak wat deur die Gees aan hulle opgedra is te kan uitvoer.

Tydens Pinkster kry ons die geleentheid om seker te maak dat ons in hierdie nuwe verhouding met God leef.  Ons moet seker maak dat ons nuutgemaak is deur die aanraking van die Gees van God.  Verder moet ons ons lewe ondersoek.  Is die Gees besig met die proses van heiligmaking in my?  Word my lewe nuutgemaak en is ek die kragtige getuie wat die Here wil hê ek moet wees?

Waarom is dit so belangrik?  Want die proses van getuie wees vir Jesus mag nooit stop nie.  God se liefde en genade is vir almal bedoel en daarom moet ons ons opdrag ernstig opneem en doen wat van ons gevra word.  Laat die Gees toe om Sy krag deur ons te openbaar en verwag dan dat groot dinge sal begin gebeur.