Teks: Galasiërs 3:21-4:7
Liedere: 521:1,2 500:1,2 504:1,4,5
Paulus skryf ‘n brief vol emosie aan hierdie gemeente. Dit kom onder Paulus se aandag dat die gemeente van die Here afgedwaal het. Allerlei dwalings word verkondig en die gemeente val hiervoor. Die gemeente is verlei en dit maak Paulus baie besorg. Die gevolg hiervan is dat daar onderlinge twis en verdeeldheid onder die gemeente ontstaan.
Dis asof Paulus so aangespreek word deur wat hy hoor dat hy die brief in een asem wil klaar skryf, sonder om homself te onderbreek. Daar is ‘n paar hooftema’s wat hy met die gemeente wil bespreek. Die gemeente:
- moet weer teruggaan na die Ware Evangelie van Jesus Christus as die gekruisigde en opgestane Heer.
- word daaraan herinner dat redding deur geloof kom en nie deur die onderhouding van die wet nie.
- word aan hul nuwe identiteit in Christus herinner, wat deur die Heilige Gees beseël is.
- word aan die Heilige Gees as geskenk aan hulle herinner.
- word opgeroep om in vryheid volgens die wet van die liefde te leef.
Op hierdie stadium het die dwaalleraars ‘n spanning tussen die wet en genade veroorsaak. Die dwaalleraars wil die gelowiges forseer om soos die Jode klem te lê op wetsgehoorsaamheid as teken van geloof. Paulus sê egter vir die gemeente dat redding nie verdien kan word nie. Dis vrylik deur Jesus aan elke gelowige geskenk.
Die wet dien slegs as ‘n instrument om mense van hul sondigheid en hul behoefte aan ‘n Verlosser bewus te maak. Die wet werk soos ‘n spieël wat ‘n mens ontnugter laat en dan laat besef dat jy iets aan jou voorkoms moet doen. Dan besef jy jy kan niks doen om te verander of om jou te red nie. Net Jesus kan dit vir jou doen. As jy na Hom uitroep om redding, maak God jou Sy kind.
Paulus gaan verder deur vir die gelowiges daaraan te herinner dat hulle nou nie meer slawe van die sonde is nie, maar mede-erfgename. Gelowiges is nou kinders van God. Deur geloof deel ons in die weldade van God. Almal is gelyk voor God, alhoewel ons nie eenders is voor Hom nie. Elkeen kry sy eie gawes en talente. Indien ‘n mens egter besef dat God ons ewe lief het en dat ons almal gelyk voor God staan, kan ons mekaar se hande vat en saam, uit wedersydse dankbaarheid vir ons redding, aan God se koninkryk bou.
Laat Paulus ons weer aan ons identiteit in Christus herinner. Dank God daarvoor. Leef en dien nou uit dankbaarheid saam met ander gelowiges in God se koninkryk.