Preekskets 08 September 2019 Ds Jacques – Soos klei in die bekwame hande van die Pottebakker


Teks:  Jeremia 18:1-17

Liedere:  168:1,2,3   411:1,2   268   521:1,2

 

In die beeld wat in hierdie teks gebruik word, moes Jeremia na die werk van die pottebakker staan en kyk.  Die pottebakker sit baie tyd en energie in sy projek in, maar na ‘n ruk kom hy agter dat die eindproduk nie na wense gaan wees nie.  Gevolglik druk hy die klei weer in ‘n bondel en begin van voor af.  Die rede hiervoor is omdat hy besef dat hy nie besig is om dit wat hy ingedagte gehad het te maak nie.  Die droom wat hy gehad het, realiseer nie.

Jeremia moes hierin sien dat dit die pottebakker is wat volle beheer oor die klei het.  Dit is hy wat besluit wat met die klei moet gebeur.  Die doel wat die pottebakker met die klei het is verbetering.  Die klei word van waardeloos, nutteloos en onaansienlik in iets kosbaars, bruikbaars en pragtigs verander.   Dan die vraag:  Kan die Here nie dieselfde doen nie?

Ook ons as mense het hierdie bekwame hande van die Ware Pottebakker in ons lewe nodig om ons te verander in die mense wat ons kan wees en veronderstel is om te wees.  Die volk Israel was die afgesonderde volk van God, wat onder Sy leiding gestaan het, maar hulle het dit begin vergeet.  Hulle het hul rug op die Here gekeer, afgode begin maak en aanbid en nie meer onder die leiding van die Here geleef nie.

Die gevolg is dat daar ‘n ernstige waarskuwing aan hulle gerig word.  Hulle wil nie hoor nie en daarom gaan hulle alles verloor.  Hulle gaan in ballingskap weggevoer word om so tot inkeer te kom.  Vir Jeremia is dit wat hier gebeur ondenkbaar.  Hy vra dan ook:  Kan ‘n mens so kortsigtig wees om nie meer God se hand in jou lewe raak te sien en te erken nie?  Kan ‘n mens die besluit neem om eerder self vir die vorming wat in jou lewe moet plaasvind pa te staan?

Jeremia se oproep is dat elke mens gewilliglik die bekwame Pottebakker sal toelaat om jou lewe te vorm soos Hy goeddink.  Vertrou Hom.  Glo dat Hy altyd beter weet.