Teks: 1 Timoteus 1:12-18
Liedere: 196:1,2,3 198:1,2,3 309:1,2,3
Ons almal het herinneringe aan ons kinderdae toe onderwysers of ons ouers vir ons gevra het wat ons eendag wil word. Die doel hiermee was om ons te help om te begin fokus op wat ons graag wil bereik, sodat ons nou al kan begin om ons optrede en opleiding in daardie rigting te begin rig.
Paulus het ook groot drome vir sy eie toekoms gehad. Hy het die navolging van God as ‘n baie belangrike element van sy lewe beskou. Hy het so ernstig daaroor gevoel dat hy homself as ‘n rabbi bekwaam het en die leër van die Fariseërs streng onderhou het.
Met sy bekering het hy egter besef dat hy nie werklik besef wat navolging van God beteken nie. Hy erken sy eie onkunde. Hy verklaar dan teenoor Timoteus dat hy sy skuld in opregtheid voor God bely het. Die Here het hom vergewe. Die Here het daarna alles gedoen en verskaf wat hy nodig gehad het om Hom te volg. Die Here het genade gegee vir sy redding, die Here het die nodige geloof in hom laat groei en die Here het liefde vir hom gehad en ook in hom aan die brand gesteek vir ander mense.
Hierdie reaksie was ‘n onverwagse of ongewone optrede van die Here. Die Here het volle reg gehad om Paulus te straf vir sy verkeerdhede, maar die Here doen dinge anders. Hy vergewe vir Paulus en maak hom daarna betroubaar om in Sy diens te kan staan. Die rede hiervoor is volgens Paulus om hom dan as ‘n voorbeeld in die wêreld in te stuur. Paulus motiveer nou vir Timoteus deur vir hom te sê dat die Here dieselfde met hom wat Timoteus wil doen as wat hy met Paulus gedoen het. Timoteus raak die volgende getuie in ‘n reeks van getuies vir die Here.
Paulus vra dus vir Timoteus wat hy graag sal wil wees of wie hy graag sal wil wees. Paulus weet wat hy was, maar belangriker, hy weet wie hy nou is. Timoteus moet sy eie lewe evalueer en as ‘n oortuigde getuie vir die Here optree. Die Here sal self vir hom alles gee wat nodig is om ‘n ware getuie te wees, soos wat gemaak is om te wees.