Preekskets 22 September 2019 Ds Jacques – Bid sonder ophou


Teks:  1 Timoteus 2:1-7

Liedere:  207:1,3,5   265:1,2   276:1,2

 

As ‘n mens die voorreg kry om ‘n ontmoeting met ‘n baie belangrike persoon te kry, soos byvoorbeeld die koningin van Engeland, is daar baie spesifieke voorskrifte en reëls waarvolgens ‘n mens moet optree.  Paulus leer vir Timoteus hoe ‘n mens moet optree wanneer ‘n mens ‘n navolger van Jesus is.  Die verskil is egter dat Paulus voor sy bekering ook gedink het dat navolging van God beteken dat ‘n hele stel reëls en voorskrifte nagekom moet word om God te behaag.  Na sy bekering kom hy egter agter dat navolging van Jesus iets heeltemal anders beteken.

Na sy bekering is hy nou ‘n nuwe mens.  Paulus leer vir Timoteus hoe ‘n mens moet lewe om nou jou toewyding aan Jesus te wys.  Gebed is dan vir hom die antwoord om jou aan hierdie toewyding te hou.  Vir Paulus is dit so ‘n ernstige saak dat hy baie ernstig by Timoteus daarop aandring om gebed as ‘n daaglikse toewydingsaktiwiteit te beskou.  Paulus dwing Timoteus nie om te bid nie, hy laat dit ook nie aan sy eie keuse oor nie.  Hy wys hom eerder op die belang daarvan om gebed as ‘n saak van groot erns te beskou.

Hy sê dan vir Timoteus dat sy gebede eerstens uit voorbidding moet bestaan.  Dra die belangrike dinge aan die Here op.  Bid vir mense wat siek is, vir mense wat tot bekering moet kom, bid vir die nood van mense.  Daarna bestaan gebed uit danksegging.  Wanner die Here op hierdie gebede reageer is dit die voorbidder se taak om die Here voordurend daarvoor te dank.  Dank die Here vir Sy goedheid in jou lewe.  Dank die Here vir kerkgroei.

Dra ook die mense wat in gesagsposisies is of wat regeer aan die Here op.  Paulus sê nie dat die voorbidder moet bid dat die regeerders meer mag moet kry of dat hulle in die leiersposisies moet bly nie.  Sy versoek vir gebed vir leiers gaan daaroor dat daar gebid moet word dat die leiers nie hul mag sal misbruik nie.  Dat hul so sal regeer dat die resultaat ‘n rustige en stil lewe onder hul leiding sal wees.  Dat hulle dus hul taak sal sien as ‘n roeping.

Timoteus moet besef dat dat hierdie gebedslewe net moontlik is as hy toegewyd sal wees aan God en eerbied sal toon.  Dit wat Paulus hom leer is die waarheid.  Leef hiervolgens.