Teks: Lukas 17:1-10
Liedere: 158:1,2,3 523:1,3,4 489:1,3
Wanneer ‘n mens met die gereg bots en in die hof moet verskyn, word daar gewoonlik ‘n baie eensydige saak deur jou regspan geskets, om jou onskuldig te laat voorkom. Die aanklaer sal dan ook weer van hulle kant ‘n baie eensydige saak stel om jou so skuldig as moontlik te laat lyk. Die Bybel daarenteen is gebalanseerd geskryf. Mense se sondigheid en foute word nie ontken nie. Ons as sondaars het ‘n Verlosser nodig, maar wanneer ons verlos word word ons nie ewe skielik volmaak nie. Ons moet die vrug van die Gees vertoon, maar hierdie proses van heiligmaking vat tyd, ‘n hele leeftyd om eerlik daaroor te wees. Die teks maak dit baie duidelik. Daarom moet ons ook besef dat net soos wat ons sukkel, alle ander mense ook struikel en foute maak. Daarom moet ons nie te hard wees op ander mense nie. Net soos wat ons nie volmaak is nie, kan ons ook nie van ander mense verwag om volmaak teenoor ons te wees nie. Dit kan egter nooit meebring dat ons onreg kan verdra of sondigheid kan goedpraat nie. Omdat alle mense sondaar is kan daar nooit toelaat word dat mense maar net kan doen wat hulle wil nie. Ons leef onder die heerskappy van die Gees, maar ons verstaan da tons steeds mense bly en daarom kan foute maak. Daarom moet ons vergewe waar vergifnis gevra word. Dit vra baie van iemand om vergifnis te vra. Ons word gewaarsku om nie die oorsaak van iemand anders se struikeling te wees nie. Waar jy iemand seer maak is dit jou plig om vergifnis daaroor te vra en te sien dat daardie gedrag nie herhaal word nie. Waar iemand teenoor jou oortree het is dit jou taak om sy of haar vergifnis te aanvaar en nie die oorsaak van daardie persoon se moedeloosheid te raak omdat jy nie bereid is om te versoen nie. So raak jy die struikelblok in daardie persoon se lewe. Nou vra die dissipels vir Jesus om hulle meer geloof te gee, want dit is nie vir hulle moontlik om te doen wat Hy van hulle vra nie. Nee sê Jesus, kleingelowigheid is nie die probleem nie. Dis ‘n verhoudingsprobleem wat die oorsaak vir hul onvermoë is. Ondersoek jou verhouding met God, dan sal jy in staat wees om te doen wat jy moet.