Teks: 2 Korintiërs 4:16-5:10
Liedere: 190:1,2,3 395:1,2,3 244:1,2,4
Elkeen van ons het al soveel keer in ons lewe in situasies gewees waar ons in magteloosheid na die Here uitgeroep het: “Waarom Here?” Soms het ons selfs vir die Here gesê: “Nee Here” of “Dis nou genoeg Here”. Onderliggend vra ons onsself die vraag: “Hoekom is die lewe so hard?” of “Waarom gryp die Here nie vinniger in my situasie in nie?”
Wanneer ons met hierdie redenasies besig is, beweeg ons gedagtes sommer gou oor na vrae oor God se karakter en se betrokkenheid in ons lewe. Dan begin ons by onsself wonder of die Here werklik so magtig is soos wat die Bybel ons leer, of Hy werklik so sensitief oor ons as mense is en werklik vir ons omgee en of Hy nie dalk eerder afwesig as teenwoordig is in ons lewe nie.
As ons na hierdie teks kyk sien ons dat ons met die diep wete kan leef dat Here se motivering vir ons aardse stryd nooit sonder motivering is nie. Hy het ‘n doel met dit wat in ons lewe gebeur. God se wil is anders as ons wil en Hy is besig om ons te vorm na Sy wil. God laat nie noodwendig ons omstandighede verander nie, maar Hy is eerder besig om jou te verander.
Hy gebruik die swaar en moeilike omstandighede om ons nader aan Hom te bring. Hy gebruik dit ook as leer momente om ons uithouvermoë en sekere vaardighede te leer, sodat Hy daardeur ons karakter kan vorm. Ons leer dikwels die meeste wanneer ons deur die moeilikste tye van ons lewe gaan. Dit is juis die hardheid van die lewe wat ons leer om in daardie omstandighede te roep: “Help Here!” So erken ek dat ek God nodig het in my lewe. Wanneer ek nie instaat is om deur hierdie krisis te gaan sonder God se hulp nie, erken ek dat ek nog iets nodig het, dat ek afhanklik is van Hom om dit vir my te gee of vir my te leer. So kry ek meer krag, meer uithouvermoë, meer geloofsvertroue en word my karakter al sterker gevorm.
In elke krisis staan ons voor die keuse om handdoek in te gooi of om na God te draai en vir Hom te vra om te help. As ek die pad van vertroue kies, leer ek soveel en begin ek ook daarna kans sien vir die krisisse van môre. Ons moet altyd onthou dat ons hulp in die genadige hand van die Een lê wat ons nooit sal verlaat nie.