Preekskets 13 Oktober 2019 Ds Jacques – Kies self


Teks:  Lukas 2:41-52

Liedere:  146:1,4   492:1,2   513:1,2,3

 

‘n Dominee loop op ‘n keer ‘n dame raak.  Hy herken haar onmiddelik as een van die meisies wat ongeveer 12-15 jaar gelede in sy finalejaarsklas was.  Hy vra haar uit oor haar lewe die laaste paar jare.  Intussen is sy al getroud en sy het ‘n seuntjie van so ongeveer 8 jaar oud.  Op ‘n vraag of hulle by ‘n kerk inskakel en of hy kategese bywoon antwoord sy hom dat hulle nie gaan nie want sy glo nie sy moet haar seuntjie forseer om te moet glo soos sy nie.  Hy kan self besluit oor sy eie geloofslewe.  Wat hy ook al kies is reg vir haar.

Maar is dit noodwendig reg of goed vir hom?  Dink maar aan iemand met ‘n kind wat aan suikersiekte ly.  Die ma weet dat die kind siek is en om gesond te bly moet hy sy medikasie gereeld gebruik en ‘n baie presiese diet volg.  As sy nou sou sê alles wat hy nodig het is tot sy beskikking, hy moet dit net self neem as hy wil, dis sy keuse, sal enige mens mos dink die ma is baie onverantwoordelik.  Sy kan selfs die kind se dood veroorsaak.  Sy moet met haar kennis en ervaring die nodige leiding in hierdie kind se lewe gee.  Dis haar verantwoordelikheid.  As sy dit nie doen nie is sy onverantwoordelik nie en nie bevoeg om ‘n ouer vir hom te wees nie.  As sy dit nie doen nie sal mense gou vra of sy werklik lief is vir haar kind.  Indien ‘n ouer sy of haar kind se geestelike versorging nalaat kan daar ook gevra word:  Hoe ernstig is hulle oor hul eie geloofsoortuiging en hoe ernstig voel hulle oor die saligheid van hul kind?

Jesus se ouers neem godsdienstige gebruike baie ernstig op.  Hulle neem Hom jaarliks na Jerusalem vir die Paasfees.  Hulle is toegewyde Jode, reis ver en ontsien geen moeite om hul opvoedingstaak uit te voer nie.  Met die terugreis is Hy weg.  Hulle gaan terug en vind Hom in die tempel.  Almal is verbaas oor Sy insig en kennis.  Die kern van die verhaal gaan dan daaroor dat Hy hulle antwoord dat Hy in die huis van Sy Vader moet wees.  Die gevolg hiervan is dat Hy onderdanig aan Sy ouers is, Sy ouers trots maak en in guns by mens en God toeneem.  Is dit nie wat ons ook vir ons eie kinders wens nie?

Indien ‘n mens jou kinders nie aan die geloof blootstel nie het jy eintlik alreeds ‘n keuse gemaak.  Dan verklaar jy klaar dat geloof nie vir jou ‘n saak van erns is nie.  Of jou kind nou glo of nie, maak nie werklik saak nie.  Dit kan nie!  Stel hulle bloot aan die Here deur hulle na die huis van ons Vader te bring.  Dis ononderhandelbaar.