Preekskets 5 Januarie 2020 Ds Jacques – Geheilig en geroep


Teks:  1 Korintiërs 1:1-9

Liedere:  175:1   582:1,3,4  478:1,2

 

Hier by die eerste Sondag van die jaar lees ons ‘n teksgedeelte waar Paulus sy inleiding van ‘n brief aan ‘n gemeente skryf.  In die aanhef tot die brief maak hy melding van die spesiale roeping wat hy van die Here ontvang het.  Die Here het hom geroep om die boodskap van verlossing aan die wêreld te verkonding.  Die gemeente in Korinte het ontstaan onder die bediening van Paulus.  Hy herinner hulle aan sy roeping en dat hulle dus as gevolg daarvan aan die inhoud van hierdie brief moet aandag gee.

Die gemeente moet egter besef dat die roeping nie by Paulus gestop het nie.  Hulle as navolgers van Jesus het nou ‘n verdere roeping om met die verkondiging van hierdie boodskap voort te gaan.  Paulus is verkondiger en die gemeente is die afgesonderdes wat geroep is tot diens vir Jesus.

Paulus dank God vir sy eie geloof, maar hy dank God ook vir die gemeente wat as gevolg van sy bediening ontstaan het.   Wat in Jesus glo is deur God geheilig, maar ook deur God met spesiale gawes geseën.

Eerstens het die gemeente die gawes van die Woord en kennis ontvang.  Die Woord moet altyd sentraal in die gemeente staan.  Dit moet oordink, gelees en toegepas word.  Deur met die Woord besig te wees, word iets in ‘n mens verander.  Jy word deur die Woord nuut gemaak.  Matteus 4:4 leer ons dat ‘n mens nie net van brood alleen leef nie, maar van elke Woord uit die mond van God.  Ons kan nie sonder die leiding van die Woord van God staande bly teen die uitdagings van hierdie wêreld nie.  Ons moet deur die Woord gevoed word.  Die Woord is nodig om ‘n gesonde en gevoede gelowige te wees.  Deur die Woord verkry ons die nodige kennis om te doen wat God van ons vra.

Verder seën die Here die gemeente met genadegawes en talente wat aangewend moet word om Jesus te eer en die gemeente te dien.  Daarom kan Paulus vir die gemeente sê dat hulle medewerkers is.  Laastens het dit die gevolg dat die gemeente na die wederkoms van Jesus uitsien, want Jesus staan sentraal en alles en almal.

Die gemeente moet toesien dat hulle vas staan in die geloof tot daardie dag aanbreek en dat hulle so leef dat daar geen klag teen hulle ingebring kan word wanneer die dag aanbreek nie.  Die gemeente is geroep en geheilig en moet daarom verenig met Jesus lewe.  Ons begin met ‘n nuwe jaar.  Vir ons staan hierdie waarhede steeds vas en sentraal in ons lewe met Jesus.