Preekskets 09 Februarie 2020 Ds Jacques – Volg Christus se voorbeeld


Teks:  1 Korintiërs 10:23-11:1

Liedere:  212:1,2,3   481:1,3   475:1,2

 

In hierdie teks spreek Paulus gemeentelede aan wat ‘n leefstyl en leefgewoontes openbaar wat nie by toegewyde gelowige mense pas nie.  Hul argument is dat Jesus mense vry maak en daarom is daar nie nou meer enige beperkings wat op gelowiges se lewens geplaas kan word nie.  Paulus stem tot ‘n mate met hulle saam deur te sê dat enige iets vir gelowige mense geoorloof is.  Geoorloof beteken eenvoudig dat ‘n mens iets mag doen.  Die teenoorgestelde hiervan is dat daar sekere dinge is wat vir jou verbode is.  Paulus stem dus op hierdie punt met hulle saam deur te sê dat gelowiges inderdaad mag doen wat hulle wil.  Tog is so ‘n manier van doen en leef nie noodwendig vir jou goed of opbouend nie.  Of die woord wat hy daarvoor gebruik, dit is nie noodwendig vir jou heilsaam nie.

‘n Gelowige mag enige iets doen, maar ‘n gelowige kan nooit die gevolge van dit wat gedoen word verontagsaam nie.  Daarom moet gelowiges steeds gedissiplineerd leef.  Dit is soos om elke dag vetterige kosse vol souse te eet en dan te aanvaar dat jou gesondheid nie daardeur geraak sal word nie.  Dis toelaatbaar.  Jy mag so eet, maar dis verseker nie vir jou heilsaam om elke dag so te eet nie.  Ons is vry en vergewe, alles is vir ons geoorloof, maar alles is nie noodwendig opbouend en heilsaam nie.

Ek moet daarom seker maak dat my keuses en optrede my eie lewe verryk.  My gedrag het ongelukkig ook ‘n effek op ander mense.  Daarom kan ek nie leef sonder om ander mense in ag te neem nie.  Al voel jy wat jy doen is vir jou geoorloof, kan dit steeds ‘n negatiewe effek op ander mense se geestelike vorm hê.  Ons optrede moet altyd daardeur gemotiveer word om God te eer.  As jy aanstoot gee deur jou optrede versuur jy ‘n ander persoon se  siening van God.  1 Johannes 4:12 leer ons dat niemand God nog ooit gesien het nie, maar as ons mekaar liefhet word God deur ander mense ervaar of “gesien”.  Dan het Sy liefde sy doel volkome in ons bereik.  Ons doel moet dus wees om so te leef ander God deur ons begin raaksien.

Die beste voorbeeld van so ‘n manier van leef is natuurlik die lewe van Jesus self.  As ons soos Jesus bedink sal ons nie meer dink dat ons vry is en nou eenvoudig kan maak soos wat ons wil nie.  Ek sal eerder dink dat ek vry is om heilsame en opbouende besluite in my lewe te neem wat tot die redding van ander mense kan bydra.