Teks: 1 Korintiërs 11:17-34
Liedere: 146:1,2,5 233;1 202:1,2,3
Die nagmaalsete is vir Paulus iets besonders, iets moois en iets goeds. Die nagmaalete wat in hierdie gemeente genuttig is, was meer as net die viering van die nagmaal soos wat ons dit ken. Die gemeente het saam gekom om te eet en tydens hierdie geleentheid is die nagmaal gevier. Hieroor voel Paulus tevrede, maar wat tydens die geleentheid gebeur het was nie vir hom prysenswaardig nie.
Die probleem tydens hierdie ete was dat sommige van die gemeentelede se ingesteldheid heeltemal verkeerd was. In hierdie groep het diskriminasie as gevolg van mense se finansiële posisie plaasgevind. En die diskriminasie was van die kant van die rykes gewees. Die ryker gemeentelede het neergesien op die armes. ‘n Mens kry die idee dat hierdie persone eerder sou verkies dat die armes heeltemal wegbly of verbied word om die ete by te woon.
Die rykes het gevolglik seker gemaak dat hulle vroeër by die ete opdaag en het dan die kosse wat hulle saamgebring het begin opeet en heerlik gedrink aan die wyn wat hulle saamgebring het om so seker te maak dat hulle nie met die mense met wie ongemaklik voel saam te eet of iets met hulle te deel nie.
Hierdie ingesteldheid ontstel Paulus baie. Hy herinner die gemeente daaraan dat alle handelinge in die gemeente veronderstel is om eerbied onder mekaar te bring, die verhouding met Jesus te versterk en ‘n herdenking van Jesus te verlossing moet wees. Dit is duidelik nie hier die doel van die ete nie. Paulus gaan so ver as om vir die mense te sê dat hulle dit eerder heeltemal moet los en dan hul vriende vir ‘n ete na hul huis moet nooi.
Die gemeente moet tydens die nagmaal daarna uitsien om deel te kry aan Jesus. Maar dan moet almal wat die behoefte aan Jesus se verlossing het welkom voel om daarin te deel. Die oorhoofse toets vir Paulus is dat die mense hulself voor Jesus moet toets. Is hulle net by die ete om iets te ontvang of is hulle daar om hul verhouding met Jesus te versterk?
Aangesien dit so in die gemeente gaan word armes en hongeres oorgesien en sterf mense selfs terwyl die gemeente toekyk en niks doen om te help nie. Die vraag wat ons vandag aan onsself moet vra is of ons uitnodigend teenoor alle soekende mense is? Dis ons opdrag. En sien ons nood raak? Doen ons iets daaraan of is ons net lid van die kerk omdat ons dalk dink dit hou vir ons voordeel in? Dan moet God deurbrake in ons lewe gee, geskenke uitdeel en wonderwerke doen. Dit kan tog nie. Om God te dien beteken nie dat ons net verwag om goed van Hom te ontvang nie, veel eerder om ons verhouding met God te versterk.