Preekskets 01 March 2020 Ds Jacques – Kom ons begin by die plek waar dit alles begin het


Teks:  Genesis 2: 15-17 en 3:1-7

Liedere:  168:1,2    43:1,2,3   267:1,2,3,4

 

In die 5 dae waarin die Here skep word die refrein, en dit was goed, na elke dag se skepping gehoor.  Na die mens op die 6de dag geskape is, is die Here selfs nog meer uitgesproke oor Sy handewerk.  Na die skepping van die mens reageer die Here deur te sê: “Dit is baie goed”.  God wandel met die mens in die paradys en Hy voorsien in al hul behoeftes.  Die mens het die verantwoordelikheid om die Here te dien en in ‘n verhouding met Hom te leef.  ‘n Liefdestoets word aan die mens gestel deur ‘n boom in die middel van die paradys aan te lê en die mens te verbied om hiervan te eet.  Indien die mens hierdie reël oortree en van die boom se vrugte eet sal hy sekerlik sterf.  Die Here is baie ernstig hieroor, want deur hierdie reël te oortree word die vertroue tussen Hom en die mens vernietig en sterf die verhouding wat tot nou toe tussen God en mens bestaan het.

Die verleier skep onsekerheid by Eva.  Hy wil God se skepping en skepsels teen Hom draai.  Hy het eerste teen God gerebeleer en nou soek hy na bondgenote om saam met Hom teen God te rebeleer.  Hy verdraai die woorde van God.  Hy vra dan aan Eva of God regtig so onregverdig is om die mens te verbied om enige van die heerlike vrugte in die paradys te eet.  Sy slaag amper die toets deurdat sy vir hom op die waarheid wys en tereg wys.  Slegs een boom is ter sprake.  Maar die begeerte is reeds by haar geskep.  Sy begin nou wonder waarom dit dan nou so verkeerd sal wees om van die boom se vrugte te eet?  Dit lyk dan so lekker.  En baie gou word die afleiding gemaak dat God die mens bedrieg deur hulle van hierdie heerlikheid te ontneem.  Die straf wat God aangekondig het word ook sommer nou as ‘n leë dreigement afgemaak.

Haar fokus het van dankbaarheid vir wat God vir hulle gegee het, verskuif na twyfel en ondankbaarheid.  Deur die twyfel in haar gemoed word God se karakter afgebreek en bevraagteken. Dan die oortreding:  Ek sal self neem wat ek wil hê.  God gaan nie meer vir my voorskryf nie.  Ek is my eie baas.  Hoe tragies.  Die wonderlike verhouding is verbreek.  Die paradyslewe verander nou na ‘n swaarkry lewe van pyn en lyding.  Hoe wonderlik is dit dan nie om in hierdie lydingstyd daaraan te dink dat God ons uit hierdie ellende wil red nie.  Dankie vir Sy Seun wat die herstel bewerk het.