Teks: 1 Korintiërs 12:1-11
Liedere: 8:1,2,3 (TT Cloete) 476:1,2 431:1,2
Paulus praat met ‘n gemeente wat in ‘n heidense agtergrond geleef het voor hul ontstaan. Hy herinner hulle aan wie hulle eers was. Hy het ‘n groep mense gesien wat meegevoer was in hul aanbidding. Soos met ‘n sterk stroom tydens ‘n oorstroming wat eenvoudig alles wegspoel, so was hierdie mense eers gewees. Hulle is deur wat daar gebeur het opgesweep. Daar was baie emosie ter sprake en erns het hulle ‘n punt oorgesteek waar hulle net nie meer kon stop nie, daarom meegevoer in hul aanbidding.
Die probleem was egter dat hierdie mense agter afgode aan geloop het. Hulle is meegevoer in die rituele en feeste wat vir afgode uitgevoer was. Nadat Paulus die Evangelie aan hierdie mense gebring het, het hulle tot bekering gekom en ‘n gemeente gestig. Nou moet hulle op ‘n nuwe manier aanbid.
Die gemeente moet deur die Gees van die Here geïnspireer word om God waarlik te kan aanbid. Hierdie optrede word deur liefde gedryf, deur die liefde wat die Vader eerstens vir ons het en dan deur die liefde wat ons vir ander mense het. Daarvoor seën die Here ons met gawes. Hierdie gawes moet aangewend word om die Here te eer en die gemeente en gemeenskap te dien. Nou word die gelowige nie meegevoer nie. Die gelowige word die beelddraer van die Here en daarom is die veronderstelling dat elke gelowige ‘n persoon moet word agter wie ongeredde aanloop om die waarheid te kan hoor en ontvang.
Dis so belangrik dat hierdie gawes nie in isolasie gebruik kan word of vir jou eie eer aangewend mag word nie. Daarom dat Paulus leer dat die allerbelangrikste gawe liefde is. As gelowiges se harte nie deur liefde gedryf word nie, is alle pogings eintlik maar onnodig. Dan is ons soos ‘n stuk klinkkende metaal of ‘n hol simbaal wat net lawaai maak, maar geen wesenlike bydrae lewer nie.
Ons moet onsself afvra of ons maar net in die kerk is om meegevoer te word, of het ons al besef dat ons dienaars van die Here is wat deur liefde gedryf word om ons gawes uit te leef in die wêreld.