Preekskets 08 March 2020 Ds Jacques – Jesus weerstaan die versoeker


Teks:  Matteus 4:1-11

Liedere:  84:1,2,4   46:1,3   48:1,3

 

Kort na die skepping, nadat God verklaar het dat alles wat Hy geskape het vir Hom goed was, slaag die satan daarin om die mens te verlei en om so die verhouding tussen God en mens te verniel.  In hierdie verhaal poog satan nou om Jesus so ver te kry om aan die versoekings wat aan Hom gerig word toe te gee, om so sonde te doen en gediskwalifiseer te word om verlossing vir alle verlore mense te bring.

Eerste word Jesus na 40 dae se kosgebrek liggaamlik versoek.  Hy is die Seun van God en daarom instaat om die bo-natuurlike te doen of Sy Vader te vra om dit vir Hom te doen.  Jesus weerstaan die satan deur vir hom te sê dat die mens nie net van brood leef nie, maar ook van elke Woord uit God se mond.

Dan daag hy Jesus uit om God te toets deur Sy lewe in gevaar te stel en God te vertrou om Hom te red.  Weereens weerstaan Jesus die satan deur vir Hom te sê dat alhoewel God vir ons sorg en omgee ons nie die reg het om Hom doelbewus te toets nie.  Hy vra gehoorsaamheid en getrouheid aan Hom.

Laastens bied satan vir Jesus ‘n maklike oplossing om mag.  Al wat Jesus moet doen is om satan as heerser oor hom te erken, dus Sy siel aan hom te verkoop en dan so alle mag te ontvang.  Jesus weet dat kortpaaie nooit die antwoord is nie.  Kortpaaie bring dalk vinnige sukses, maar die gevolge van die keuses wat jy gemaak het het gewoonlik lewenslange implikasies.  Daarom Sy antwoord dat Hy net aan God getrou sal wees en Hom sal dien en gehoorsaam.  So weerstaan Hy die aanslae van satan.

As ons in Jesus se voetspore wil volg sal ons ook moet leer om die satan te weerstaan soos wat Hy gedoen het, deur die satan en sy sluheid te erken, die Woord van God te ken en onder leiding en gevul met die Gees te leef.  In ons eie krag sal ons dit nie maak nie.  Ons moet gevul wees, gelei word en gehoorsaam wees, anders loop ons die gevaar om dieselfde paadjie as Adam en Eva te loop, waar ons aan God se goedheid begin twyfel en die mag in ons eie hande wil neem.  Leer om die satan te weerstaan en leef onder die heerskappy van God en Sy Gees.