Teks: 2 Korintiërs 5:11-21
Liedere: 66:1,3 82:1,2 84:2,4,5
In hierdie teksgedeelte sê Paulus vir die hoorders dat navolgers van Jesus tot nuwe insigte gekom het. Nadat die mens deur satan in die paradys verlei is en so hul rug op God gekeer het, het die mens spyt gekry oor die optrede. Die mens was onder die indruk dat ‘n lewe sonder God moontlik was. Hulle het egter baie vinnig spyt gekry oor hierdie keuse, maar daar was geen manier om dit wat gebeur het ongedaan te maak nie.
Met die koms van Jesus na die aarde het dinge egter verander. Die mens word ‘n opsie gebied om die verhouding met God te kan herstel. Maar dan is dit eers nodig om jou eie gebrokenheid en verlorenheid te besef en voor God te verklaar dat jy Sy verlossing nodig het. ‘n Mens moet God se nodigheid in jou lewe besef en dit verklaar.
Die sonde het deur een mens in die wêreld gekom en so staan almal nou onder die oordeel. Deur Een wat nou vir almal gesterf het en so vir almal se skuld gestraf is kom daar vryheid en vergewing vir almal, mits jy dit glo. Dit is die nuwe insigte waarvan Paulus praat. Gelowiges leef nou nie meer vir hulself nie, maar eerder vir Hom wat vir ons gesterf het. Ons besef ‘n lewe sonder Hom is geen lewe nie. Ons besef wat ons voor die onmoeting met Hom was en wat ons nou na die ontmoeting met Hom by die kruis geword het. Dit skep ‘n ontsettende groot dankbaarheid in ons harte.
Ons besef ons is deur Jesus Christus met God versoen. Nou is ons nie meer verlore sondaars nie, maar nuutgemaakte verlostes. Ons is begenadigdes wat erfgename van God geraak het. Die verhouding is herstel. As nuwe mense is ons nou gesante van God.
Die bediening van hierdie versoeningsboodskap is aan ons toevertrou. Ons het die opdrag om dit met ander te deel. Ons gee nie versoening nie. God gee dit, maar ons getuig daarvan en so bedien ons die wat dit nog nodig het. Alle mense word nuut beoordeel en dis ons taak om hulle daaroor in te lig. God ken gelukkig ons bedoelings. Al wat Hy vra is dat ons getrou sal wees in ons opdrag.