Preekskets 05 April 2020 Ds Jacques – U was nog altyd getrou


Teks:  Psalm 22

 

Wanneer ons ‘n tyd van groot ontsekerheid beleef, hou ons onsself ook met baie vrae besig.  Vrae soos:  Hoe maak ons nou?  Waarom gebeur dit?  Wat is die uiteinde hiervan?  Maar ook geloofsvrae:  Waarom Here?  Wat wil U hiermee bereik?  Is U in beheer?

Sommige mense sien die eindtye, die tekens van die tye hierin.  Ander sien dit as straf van die Here op die mens se ongehoorsaamheid.  Ander sê weer God forseer ons om stil te raak voor Hom en onsself aan Hom toe te wy.  Dalk lê die antwoord in ‘n kombinasie van al drie hierdie sienings.  Dalk wil God ons toets, of ons meer toegewyd aan Hom maak.  Dalk het God heeltemal ‘n ander doel hiermee.

Wat ons egter nie moet vergeet nie, is dat hierdie nie die eerste krisis is wat die wêreld moet hanteer nie.  Die hele Ou Testament is vol verhale van stryd, bekommernis en onsekerheid.  Die Nuwe Testament vertel ook verhale van vervolging van die kerk en dissipels.  Jesus word selfs ter dood veroordeel.  Van die Nuwe Testamentiese tyd het die mensdom al amper te veel kere om te kan tel erge krississe moes hanteer.  Vervolging van die kerk, oorloë, siekte en rampe.  Die lys hou aan en aan.  Ons kan nou stilstaan by die waarom en hoekom vrae en onsself heeltemal moeg maak daarmee, of ons kan na Psalm 22 kyk en sien hoe Dawid in ‘n krisistys in sy lewe reageer.

Dawid se eerste reaksie in vers 1-4 is tipies menslik.  Hy dink God hom verlaat het.  Dit voel vir hom of God nie omgee nie en hom aan sy eie genade oorlaat.  Jesus gebruik hierdie selfde woorde wanneer hy aan die kruis hang:  My God, My God, waarom het U my verlaat?

Dan herinner Dawid homself daaraan dat God nog altyd getrou was.  Reg die geskiedenis was God nog altyd daar, vir die voorvaders van Israel en net so ook vir Dawid.

In vers 7-12 gaan hy dan verder deur te vra, wie gee my geringe mens enigsins die reg om iets te verwag.  Ek is gering en sondig.  Daarom kan hy net een ding doen en dit is om sy vertroue in God te plaas.

Die draaipunt in die psalm vind ons in vers 23-31.  Nou vereer hy vir God.  Hy dank God vir Sy volgehoue sorg en dat Hy vir hom as geringe mens raaksien.  Daarom beloof hy om getrou te wees aan die Here en Hom te bly aanbid en as getuie vir Hom op te tree.  Kyk net hoe mooi skryf hy in vers 34:  Sodat die generasies wat nog gebore moet word ook my verhaal sal hoor en daardeur geinspireer sal word om God te eer.  Mag ons so aan God vashou en oor Hom getuig dat ons getuienis dieselfde effek sal hê.