Preekskets 19 April 2020 Ds Jacques – Wees bly


Teks:  Johannes 15:11 en Filippense 4:4-7

As kind het ons almal die speletjie gespeel om onsself te verbeeld dat jy iets of iemand anders is, kamma-kamma of speel-speel.  Dan leef jy jouself heeltemal in die situasie in.  Te lekker.  As grootmense doen ons steeds dieselfde, met die verskil dat die kamma-kamma ons help om groot dinge te vermag.  Dink maar net aan alles wat die groot ontdekkers vermag het deur wat hulle gedroom het.  Sê nou maar net dis moontlik om ‘n vliegtuig te bou, of ‘n telefoon te maak, of ‘n elektriese gloeilamp te maak.  Sê nou maar net dis moontlik, ‘n mens kan dit maak of dis moontlik!  Hierdie manier van dink verander die hele wêreld.

In hierdie teks praat die Bybelskrywers ook van iets wat ons onsself moet verbeeld.  Sê nou maar net dis moontlik om bly te wees onder alle omstandighede.  Maar as ons mooi na hierdie tekste kyk sien ons dat die skrywers dit nie as iets sien wat dalk kan wees of wat ons onsself moet verbeel nie.  Ons moet bly wees!  Dis ‘n duidelike opdrag.

Maar is dit moontlik?  Kan ons?  Ek dink dit is net moontlik as ons reg oor blyskap en vreugde begin dink.  Ek dink ons koppel blydskap aan ons omstandighede.  Hierdie tekste sê egter nie dat ons moet wag totdat alle omstandighede ideaal is sodat ons blydskap kan ervaar nie.  Net, wees bly.  Dis ‘n ingesteldheid. 

Dis soos die 10de appel effek.  Wanneer iemand in die berge verdwaal en dae lank sonder kos rondloop, bid hy vir uitkoms en kos.  Uiteindelike kom hy op ‘n boom vol appels af.  Hy pluk onmiddelik ‘n appel of twee en begin eet.  Na die 4de, 5de appel begin hy kieskeurig raak.  Dan kies hy net die mooiste, grootste en rypste appels uit.  By die 10de appel begin hy kla, moet ek net van appels leef, as ek net appels eet gaan my maag begin pyn.  Almal lei aan hierdie 10de appel effek.  As ons min het is ons baie dankbaar vir wat ons het of vir die utikoms wat ons kry.  As ons oorvloed het raak ons kieskeurig of selfs vol fiemies.  Daarom is dit nodig dat ons ons ingesteldheid ondersoek en doelbewus ‘n punt daarvan maak om dankbaar te wees en dankbaarheid te leef.  Ons moet ‘n punt daarvan maak om die Here vir elke gawe in ons lewe te dank.  Ons is tans baie ongelukkig omdat ons van soveel dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar het, ontneem is.  Een van die dae verander alles weer.  Dan kan ons maak en doen net wat ons wil.  Ons moet baie versigtig wees dat die 10de appel effek nie weer intree en ons die lewe as vanselfsprekend aanvaar nie.  Dank God nou vir wat ons het, en ook dan vir alles wat ons weer terug kry.