Teks: Psalm 28
Daar word ‘n storie vertel van ‘n sterwende, ongelowe pasiënt wat sy gelowige dokter vir ‘n laaste keer gaan besoek en dan aan hom vra wat na die dood op hom wag. Die dokter antwoord dat hy nie weet nie, waarop die pasiënt sê dat as hy wat gelowig is nie eens weet nie, wie sal dan weet? Met die krap die dokter se hond teen sy deur en laat hy hom inkom. Hy spring met groot opwinding teen die dokter was. Die dokter verduidelik toe aan die pasiënt dat die so is met die oorgang na die dood. Die hond was nog nooit in die spreekkamer nie, maar hy het geweet dat sy baas daar binne is, so sonder vrees het hy aanhou krap tot hy kon inkom. Vir hom was dit genoeg om te weet wie daar is, sonder om presies te weet wat om binne te verwag.
So werk dit met ons as gelowiges ook. Vir ons is dit ook genoeg om te weet wie dit is op wie ons reken en wie na ons omsien, sonder om noodwendig presies te weet wat die dag van môre inhou, wat nog op ons wag. Ons weet Wie daar vir ons wag.
Dawid skryf in hierdie Psalm dat hy die hulp van die Here nodig het. ‘n Twyfel gedagte kom by hom op en hy vra dan dat God hom tog nie moet vergeet nie. Hy vra dat God hom tog weer moet help. Dan herinner hy vir God, maar sekerlik meer vir homself, dat God nog altyd gehelp het. Daarin lê sy sekerheid en vaste oortuiging om dan hierdie keer weer op God te vertrou. Nou kan hy oorgaan tot dank. Dankie Here dat U weer sal help.
Daarom is hy bly en wil hy die Here loof met sy lied. Die Here sorg nog altyd en hou ook aan om te sorg. U voel dalk ook soos Dawid. U beleef dalk onsekerheid of vrees op die oomblik in u lewe. Maak soos Dawid en erken eerlik teenoor die Here hoe u voel. Word weer deur Sy getrouheid en lewenslange versorging daarvan verseker dat Hy nie nou van karakter sal verander nie en daarom kan ons Hom steeds en weer vertrou vir die dag van môre. Ja, ons weet nie heeltemal hoe die dag van môre gaan lyk nie, maar ons weet Wie daar vir ons wag. En dit is vir ons as gelowiges genoeg. Omdat Hy daar is, kan ons soos Dawid bly wees en Hom met ons lied loof.