Preekskets 3 Mei 2020 Ds Jacques – Die hoop beskaam nie


Teks:  1 Petrus 3:13-17

Hoop is ‘n wonderlike woord.  Dit is ‘n wens of ‘n verwagting dat iets sal gebeur of dalk nie sal gebeur nie.  Die hoop dat die toekoms iets inhou wat vir my positiefs sal wees.  Ek hoop dit reën môre.  Ek hoop ‘n bekende kom vir my kuier.  Ek hoop om bevordering by die werk te kry.  As dit gebeur bring dit groot blydskap en vreugde in ‘n mens se lewe.

Maar hoop kom nie met enige waarborge nie.  Hoop is nie ‘n seker wete nie.  Daar is altyd ‘n mate van onsekerheid wanneer ‘n mense vir iets hoop.  Dit mag of dit mag dalk nie.  Indien ek vir iets hoop en dit realiseer nie, gaan dit gewoonlik saam met teleurstelling.

Vandag se teks praat ook van hoop.  Dit praat van die hoop wat “in julle leef”.  In Petrus se tyd was dit nie maklik om ‘n gelowige te wees nie.  Die kerk is ernstig deur die Romeine vervolg.  Dit Jode het hulle ferm teengestaan.  Daar was die wat hulle wou kwaad aandoen en die wat hulle laat ly het omdat hulle goed gedoen het in die gemeenskap.  Dit was die realiteit van die tyd. 

Hulle kon maklik moed verloor en besluit het dat dit net eenvoudig nie die moeite werd is om deur al hierdie probleme en slegte ervarings te worstel ter wille van jou geloof nie.  Hulle hoop mense kom tot bekering.  Hulle hoop mense kom tot ander insigte.  Hulle hoop die vervolging stop, maar dit doen nie.  Waarom dan aanhou?

Vers 15 gee die antwoord.  Want hoop is iets wat in hulle harte te vinde is.  Hulle leef met ‘n ander hoop.  Hulle hoop nie vir iets nie.  Hulle leef met hoop.  Dis ‘n sekerheid wat nie deur menslike optrede of omstandighede verander of beïnvloed word nie.  Nie ek hoop op iets beters nie.  Nee, ek het hoop, want Jesus Christus is binne my.  Ek raak dan ‘n draer van hoop en ek neem hoop met my saam.  Ek is ‘n verkondiger van hoop.  Ewige hoop wat onveranderlik en standvastig is. En elke gelowige leef vanuit hierdie sekerheid.  Elke gelowige leef met hierdie sekerheid en is ‘n verkondiger van hierdie sekerheid.  Dit is ware hoop.  Dit is hoop wat ons het!  Hoop wat ons met die wêreld deel.  Hou aan hierdie hoop vas en wees gereed om daaroor te getuig.