Preekskets 10 Mei 2020 Ds Jacques – Die liefde van ‘n ma


Teks:  Eksodus 2:1-10

Daar word net ‘n paar keer na Jogebed of na haar naam in die Bybel verwys.  Tog het sy ‘n uitsonderlinge rol rol vervul en haar diep geloof getoon.  In die lys van geloofshelde in Hebreërs 11 word haar naam opgeneem om vir ons te wys wat moontlik is as ‘n mens God bo alles en teen alle logika in vertrou.  Soos die res van die geloofshelde wat hier genoem word, het sy God volledig vertrou en word sy vir ons as ‘n voorbeeld voorgehou van vaste geloof. 

In haar tyd vaardig koning van Egipte ‘n bevel uit dat alle Joodse seuntjies moes sterf.  Hy was bang dat die Jode te veel en te sterk sou word en dan vir die Egiptenare ‘n bedreiging sou inhou.  Sy sien egter nie daarvoor kans nie.  Sy steek haar seuntjie vir 3 maande weg, maar dan is dit nie meer vir haar moontlik om hiermee voort te gaan, sonder dat sy uitgevang gaan word nie.  Daarom besluit sy om ‘n rietmandjie te maak, dit met pik dig te maak en haar seuntjie daarin in die Nylrivier, tussen die riete weg te steek.  Sy laat haar dogter ‘n entjie verder wegkruip om haar seuntjie op te pas. 

Hier sien ons ‘n brawe geloof.  ‘n Vrou wat teen die bevel van die koning optree en haar eie lewe waag om haar seuntjie aan die lewe te hou.  Die oomblik in die verhaal breek aan waar sy uitgevang word, en dit nogal deur die dogter van die man wat die wrede bevel uitgevaardig het.  Haar dogter dink vinnig en stel voor dat haar ma die seuntjie sal versorg.

So word haar geloof beloon.  Sy ontvang haar seuntjie terug.  Sy mag hom by haar hou en met die toestemming van die koning se dogter, sonder om hom verder weg te steek, grootmaak.  Verder word sy selfs vir hierdie taak wat sy moet verrig deur die prinses betaal.  En ons weet watter ongelooflike belangrike rol Moses in die geskiedenis van Israel sou speel.  Natuurlik was God die heeltyd in beheer en het hy ‘n groter plan met Moses se lewe gehad.  Tog gebruik ‘n ma brawe, gelowige ma in hierdie pad.  So gebruik God steeds tot vandag ma’s as die ankers in kinders se lewe om hulle van Sy liefde te leer.  Hulle offer op, doen hulself te kort en tree baie keer in groot geloof, teen alle logika in op, om ons te maak wat ons elkeen vandag is.  Dankie vir wie julle is en wat julle vir ons beteken.  Julle ma’s is die beste.