Teks: Psalm 8
Liedere: 525:1,3 245:1,2 215:1,3,4,5
Wat maak jou bang? Elkeen van ons sal hierdie vraag anders antwoord. Vir sekeres van ons is daar gogga’s of wilde diere, vir ander is dit die donker of hoogtes en vir ander weer dinge soos misdaad of die toekoms.
Hoekom maak hierdie dinge jou bang? Daar mag verskeie redes hiervoor wees. God het ons so geskape dat ons die vermoeë het om bang te kan raak. Dit is ‘n beskermingsmeganisme teen gevaar. Van jongs af word ons geleer om vir sekere dinge bang te wees. Ons leer uit ons eie ervarings dat sekere dinge gevaarlik is en dat ons dit moet vermy. Sosiale media blaas egter sekere vrese uit verhouding groot op. Dit lei tot massa histerie. En omdat amper almal dan op ‘n sekere manier reageer voel ek dat dit onverantwoordelik sal wees om teen die status quo standpunt in te neem. Vrees is nodig en belangrik vir ons oorlewing. Wanneer vrees egter ongegrond is of buite verband ervaar word, sit ons met ‘n probleem. Dit lei tot fobies.
Tog leer die Bybel ons om realisties na die wêreld te kyk. Ons moet nie onverantwoordelik optree nie, maar ons moet op God vertrou vir ons lewe. Ons moet die nodige onderskeidingsvermoë ontwikkel om realisties op te tree.
Hoe kry ek dit reg? Waar begin ek? Deur na God te draai en Sy grootheid raak te sien en te besing. Deur raak te sien hoe glansryk alles is wat God in die hemel geplaas het. Deur God se magtige werke te aanskou. Sy skeppingswerke, hoe Hy die hele skepping instand hou, deur Sy persoonlike bemoeienis in my lewe en met die hele mensdom te erken, deur Sy wonderwerkende krag te aanskou en daaroor te getuig.
Ons staan in verwondering voor God se grootheid en plaas dan ons volkome vertroue in Hom. Ons verklaar nie net dat Hy almagtig is nie, ons glo dit met ons hele hart en leef dan met ‘n vaste vertroue wat op Hom gerig is. Tereg kan ons onsself die vraag afvra: Wat is die mens dan dat U wat so almagtig en wonderbaar is, aan hom dink? Waar pas ek as geringe mens in God se grootheid in? Maak ek regtig vir God saak? Maar natuurlik! Hy het ons as net ‘n bietjie minder as die hemelse wesens gemaak. Hy het ons geskape om te heers. Hy kroon ons met eer. Hy stuur Sy Seun ons te sterf sodat ons kan leef. Hy hou ons styf vas in Sy hand. Daarom moet my fokus weg beweeg van die vervalle wêreld na die wonderbaarlikheid van Hom. Indien ek dit kan regkry sal vrees nie meer my lewe beheer nie, maar sal ek volledig op Hom vertrou wat in beheer is.