Teks: Spreuke 2: 1-13
Liedere: 169 199 281
In die Spreuke boek praat Salomo met ‘n jongman wat voor die uitdagings van die volwasse lewe staan. Hy is besig om die jongman te onderrig en raad te gee vir die lewe wat op hom wag. Vir hom is dit uiters belangrik dat die jongman sy lewe volgens die beginsels wat God vasgestel het rig. Hier is dit vir hom baie belangrik dat die jongman dit wat hy vir hom voorskryf sy eie sal maak. Mense wat na die tyd wat dit neem om ‘n nuwe gewoonte te vorm kyk, praat van die 21/90 reël. Hiermee bedoel hulle dat dit 21 dae neem om iets onder die knie te kry, maar 90 dae om dit ‘n gewoonte in jou lewe te maak. Gemiddeld word daar gesê, neem dit 66 dae om ‘n nuwe gewoonte te vorm.
Om egter ‘n verandering in jou lewe te laat plaasvind is dit eerstens noodsaaklik om raak te sien dat dinge moet verander. Daarom moet ‘n mens se ore oop wees vir die waarheid en jy moet ‘n leergierige gees hê, waardeur jy toon dat jy bereid is om te luister en te verander. Almal het oortuigings en gewoontes wat diep in jou vasgelê is. Die vraag wat ons onsself moet afvra is of dit werklik volgens die Bybel se riglyne reg is of is daar ander redes waarom ek so sterk hieroor voel? Daarom moet ek my ore vir die waarheid in die Woord oopmaak om duidelikheid te kry oor wat werklik saakmaak.
Ons moet ‘n doelbewuste poging aanwend om te probeer verstaan wat God ons wil leer en wat Hy wil sien verander in ons lewe. Daarom moet ons Hom vra vir insig en wysheid om waarlik te kan onderskei. Ons moet besef dat hierdie insig en waarheid nie uit onsself kom nie, maar dat dit ‘n gawe van God is. Wysheid begin met die dien van die Here. In hierdie teks stel Salomo dit dat die soeke na insig en waarheid vir ons so belangrik moet wees soos wat ‘n verlore skat vir ‘n persoon is wat daarna soek. Ons moet met dieselfde ywer na die geestelike skat soek waarmee mense na ‘n aardse skat sou soek. So ontdek jy wat dit is om die Here te dien. Watter vreugde hou dit nie vir ons in nie. Soos wat die skat ontdek word en oopgemaak word, begin Sy gestalte al meer in ons lewe vorm aanneem. Laat Hom toe om dit binne jou lewe te laat gebeur.