Teks: Matteus 7:7-12
Liedere: 157:1,2 202:1,2 430:2,3
Wanneer ‘n mens na jare weer terugkeer na ‘n omgewing waar jy vroeër gewoon het, is baie van dit wat jy gewoonlik geken het nie meer dieselfde nie. Gewoonlik woon dieselfde mense nie meer daar nie. As ‘n mens dan iemand spesifieks uit jou verlede wil opspoor vra dit heelwat moeite.
Eerstens moet daar inligting ingewin word om uit te vind wat van die persoon waarna jy soek geword het. Daarvoor moet daar vrae gevra word. Wanneer hierdie informasie ingewin is, is die volgende stap dan om te begin om die persoon te soek. Wanneer die huis van die persoon waarna jy gesoek het opgespoor is, moet daar aan die deur geklop word om uit te vind of dit inderdaad die regte persoon en huis is. Indien dit wel so is is die wedersiens gewoonlik ‘n blye oomblik en word die verlore jare opgevang. Daar is egter geen waarborg dat die informasie wat ingesamel is tot die gewenste resultaat sal lei nie.
Hierdie teksgedeelte sê nou vir ons dat God van ons verwag om dieselfde te doen wanneer ons met Hom besig is. Ons moet ook informasie inwin oor Hom, na Hom soek en klop totdat Hy vir ons Sy deur oopmaak. Die verskil wanneer ons met God besig is is dat Hy ons nooit met leë hande sal laat nie. Sy informasie is relevant en waar. Hy is soos ‘n gas wat met groot opwinding wag dat die kuiermense by Hom moet opdaag. Hy wil ons gebede verhoor.
God se aanraking in ons lewe kan egter nie net daar eindig nie. Dis wonderlik om te weet dat Hy ons gebede verhoor en dat Hy vir ons omgee, maar Sy aanraking in ons lewe moet verseker ook tot ‘n transformasie in ons lewe lei. Wat ons moet besef is dat God ons roep om ander mense se lewens aan te raak.
Hierdie teksgedeelte sê vir ons dat dit waaroor dit eintlik gaan is om aan ander mense te doen wat ons graag wil hê dat hulle aan ons moet doen. Die besef wat God vir ons doen, dus die informasie wat ons daaroor kry, lei tot ‘n verandering in ons gedrag, ‘n transformasie in ons lewe teenoor ander mense. Bly vra, bly soek, bly klop tot jy Hom vind en help ander dan om dieselfde weg te vind wat jou lewe verander het.