Teks: Romeine 8:18-30
Liedere: 157:1,2 178 502:1,2
In hoofstuk 5 tot 8 van Romeine bespreek Paulus wat die vryspraak vir ‘n gelowige se persoonlike lewe beteken. Hy lê klem daarop dat ‘n gelowe ‘n vrede beleef wat nie vir ongelowiges verstaanbaar is nie. Geloofsekerheid bring vrede, diens gee vrede, vrede word in die wete van vryheid van die wet ervaar, daar is vrede in kindskap in God, daar is selfs vrede in die swaarkry en God gee volkome vrede in die oorwinning wat Hy behaal het en aan ons skenk.
Ten spyte van hierdie wete moet ons steeds in hierdie stukkende en vernielde wêreld leef. Ons weet ons is kind van God en ons het geloofsekerheid, maar tog kan ons nie van hierdie wêreld ontsnap nie. Maar juis omdat ons ons kindskap en daarom ons nuwe verhouding en posisie in God verstaan, kyk ons nuut na hierdie wêreld. Juis omdat ons met die sekerheid leef dat ons van hierdie verganklike bevry gaan word, juis omdat ons vanuit hierdie belofte leef, sien ons kans vir dit wat ons hier ervaar.
Jou nuwe posisie laat jou nou reeds nuut na die lewe kyk, nuut leef en nuut op die toekoms hoop. Paulus is daarom dan daarvan oortuig dat die swaarkry wat ons hier ervaar nie ons belewing van vrede hoef te benadeel nie. Dit kan eerder ons sekerheid in God versterk. Die heerlikheid wat nog vir ons voorlê en waarna ons uitsien gaan soveel oorvloediger as die tydelike lyding wees, dat ons eendag daarna terugkyk, sal ons kan sê dit was sommer niks.
Alhoewel ons dit weet en ons daaraan vashou laat die swaarkry ons steeds sug. Dis egter nie ‘n moedelose sug nie, maar ‘n sug in verwagting na wat nog voorlê. ‘n Sug waarmee daar na die heerlikheid van God uitgesien word. Hy gee die belofte van hoop en troos. Die hele skepping sug saam met ons en sien saam hierna uit. Ons is immers gered. Daarom het ons nou reeds hoop. Hy hoor ons gebed. Hy hoor ons sug. Hy staan ons in ons swakheid by. Die Gees bid saam en namens ons, pleit vir ons. God hoor, meer as hoor. Hy word deur ons gebed deurgrond. Hy het ‘n doel met jou lewe en wil hê dat jy daardie doel moet bereik. Daarom laat Hy alles ten goede meewerk vir die wat Hom dien en wat Hom liefhet. Hy wil hê dat ons in Sy heerlikheid moet deel. Daarom gebruik Hy selfs ons swaarkry om in ons lewe ‘n positiewe verskil te maak. Daarom moet ons terugdink aan die swaarkry van die verlede waardeer Hy ons alreeds gevorm het en moed skep dat dit verder steeds met ons sal gebeur.