Teks: Romeine 12:1-8
Liedere: 207:1,5 309:1,2,3 209:1
Jesus sê: “Gee My jou alles”. Ons weet dit en ons hoor dit baie keer in ons lewe. Maar hoe dink ons hieroor? Verstaan ons regtig wat dit beteken dat Jesus vra dat ons alles van onsself aan Hom moet gee. Werklik elke faset van ons lewe.
Wanneer Jesus dit vra mag ons dalk aan seker fasette van ons lewe dink wat vir ons waardevol is en wat ons voel vir Jesus ook waardevol behoort te wees. Ek kan dalk vir hom meer van my tyd of my geld gee. Ek kan dalk harder in die kerk werk. Dit beteken egter nog nie dat ek Hom my alles gee nie. Dan dink ons dualisties oor ons lewe. Ons dink dat ons lewe in twee verdeel kan word. Een deel is my godsdienstige deel, die deel wat ek bereid is om vir Jesus af te staan en waaroor Hy dan ‘n sê het. Die ander deel is egter my deel, waar ek baas is en kan doen wat ek wil. As ek dan ‘n nog groter deel aan Jesus afstaan behoort Hy mos daarmee tevrede te wees. Dit toon tog my toewyding aan Hom. Of hoe?
Halfhartigheid is nooit vir God goed genoeg nie. God vra ‘n holistiese kyk na my lewe. Dit beteken dat ek na my lewe as ‘n geheel kyk. Hierby word dan alle fasette van my lewe ingereken. Ek is dalk sekere tye soos met ‘n erediens of stiltetyd baie direk met God besig, maar die ander tye van my lewe behoort steeds aan Hom en word tot Sy eer aangewend en geleef. As Hy bereid was om alles vir ons te gee, waarom sal ons dan huiwer om alles vir Hom te gee? Is daar iemand of iets waaraan ons eerder ons lewe wil toevertrou? Wil ek werklik self beheer neem van my lewe? Daar is tog nie enige iets of iemand waaraan ek eerder my lewe sal toevertrou as die Een wat bereid was om Sy lewe vir my en vir jou af te lê nie. Jesus is net so geheel en al anders as wat ons is. Sy optrede teenoor mense getuig van omgee, liefde en begrip. Dit is die ware Jesus en dit is die Een wat Homself beskikbaar maak vir elkeen wat Sy Naam aanroep. Vertrou jou hele lewe aan hierdie een toe. Dis deur en deur die moeite werd.