Teks: 2 Korintiërs 4:1-6
Liedere: 169:1,2 258:1 284:1,2,3
Kennis is mag. Met hierdie stelling het ek groot geword. Die laerskool wat ek in Parow bygewoon het se leuse was: Kennis oorwin. Alles kan van jou weggeneem word, maar nie kennis nie. Ons weet ook dat onderrig of kennis nodig is om ‘n ekonomie wat sukkel weer aan die gang te kry. Om gekwalifiseerde mense in die arbeidswêreld in te stuur. Hierdie is egter slegs een kant van kennis, die akademiese siening daarvan.
Dan kry ‘n mens ook die toepassing van kennis. Om met dit wat jy weet iets te kan doen. ‘n Mens kan dit ook noem, die kennis van weet. Onsekerheid kan ‘n mens gek maak. As ‘n mens egter inligting oor jou situasie ontvang, is jy baie meer voorbereid op wat wag. As ‘n mens egter oningelig of onkundig is kan jy baie maklik in groot moeilikheid beland deur verkeerd op te tree. ‘n Mens kan as gevolg van jou onkunde in situasies van groot verleentheid beland.
Die teks praat ook van kennis en onkunde. Die waarheid van die heerlikheid van Jesus Christus is openlik bekend gemaak. Dis soos ‘n toegedraaide geskenk wat oopgemaak word sodat die geheim wat binne in is sigbaar kan word. Wanneer hierdie geskenk oopgemaak word, skyn die lig van Jesus uit in die wêreld. Dit verander die hele wêreld. Nou is mens ingelig oor hoe God wil hê dat die wêreld moet lyk. Maak daarom die waarheid eerlik en sonder bedrog bekend.
Ongelukkig luister almal nie na hierdie boodskap nie. Soos ‘n ouer wat moeg raak daarvoor om hul kinders oor dieselfde saak aan te spreek, kan getuies ook moeg raak om te getuig as die hoorders nie op die boodskap reageer nie. Gelukkig troos hierdie teksgedeelte ons deur ons daaraan te herinner dat ons slegs instrumente in die hand van God is. Ons het die opdrag om die waarheid bekend te maak en dit deur ons voorbeeld uit te leef. Dit is egter God wat die saadjies wat in mense se harte geplant is laat ontkiem en groei. As ons dit verstaan sal ons nie moeg word van getuig en goed doen nie. Ons doen wat ons kan. Ons sê wat ons moet. Ons bid soos ons kan, maar daarna vertrou ons God om die naprediker in mense se harte te wees. Mag ons altyd volhard in ons opdrag van verkondiging. Mag ons lewens getuig van dit wat ons glo en mag ons nooit moedeloos word om van God se grootheid te getuig nie.